Klapmuts Primêre Skool het die afgelope paar dae ’n tragedie beleef toe drie van sy leerders in twee afsonderlike voorvalle oorlede is.
’n Noodlottige tref-en-trap-ongeluk het die afgelope Maandag (27 November) net voor 07:00 ’n broer en suster, wat op pad skool toe was, se lewe geëis, terwyl Zhanolique Fischer (9), ’n gr.3-leerder, die afgelope Sondag (26 November) weens natuurlike oorsake dood is.
Wiandre (7) en Chloe Vlotman (13), ’n broer en suster wat onderskeidelik gr.1- en gr.7-leerders van Klapmuts Primêr was, het oudergewoonte hul skooltasse gepak en vir die skoolbus gaan wag, min wetend dat dit die laaste keer sou wees dat dié twee hul familie sou sien.
Terwyl die broer en suster langs die R45, oftewel die Klapmuts/Simondium-pad, vir die skoolbus gewag het, het ’n motor van die pad af gery en die kinders getref.
Albei kinders is op slag dood, volgens Veronica Galant, ondervoorsitter van Klapmuts se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
Galant het verduidelik die motor wat die sibbe getref het, se spoed kon nog nie bepaal word nie, maar die motor word tans bestudeer om die spoed te bepaal.
Jacobus Moos, stasiebevelvoerder van die Klapmuts-polisie, het gesê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
“Die skoolkinders van die plaas Simonsvlei het op 27 November omstreeks 06:45 soos gewoonlik op die hoek van die R45 en die Simonsvlei-pad vir die skoolbus gewag.
“ ’n Voertuig, wat van Franschhoek na Klapmuts onderweg was, het toe buite beheer geraak, waarna dit die kinders getref en teen ’n boom tot stilstand gekom het,” volgens Moos.
Volgens Galant was die bestuurder van die motor na bewering ‘n “leerlingbestuurder” wat, nadat haar wiele die gruis lanks die pad geraak het, die motor “weggeruk” het, en daarna beheer verloor en in die boom, waar die sibbe vir die bus gewag het, vasgery.
Paarl Post het met Fredeline Koordom, ’n assistent by Klapmuts Primêr, gesels. Sy het die Vlotman- broer en suster as baie vriendelike leerders beskryf.
“Chloe het aan Miss Klapmuts deelgeneem en dit het ons almal verbaas, omdat sy baie stil was,” volgens Koordom.
“Sy het al hoe meer uit haar dop gekruip. Sy was ’n spontane mens en het pragtig gelyk by die Miss Klapmuts-kompetisie.”
Volgens Koordom het sy Wiandre nie goed geken nie, maar het wel verduidelik hoe opgewonde hy was om die Kersboom vir sy klaspartytjie op te maak.
Koordom het verduidelik sy gr.1-klas sou ’n boom opmaak om Kersfees te vier en Wiandre was só opgewonde. “Hy het vir sy juffrou gesê hy sal ‘self die boom opmaak’.”
Volgens Koordom het Fischer reeds ’n geruime tyd met mediese komplikasies gesukkel en sy Saterdagoggend omstreeks 04:00 haar laaste asem uitgeblaas.
’n Gedenkdiens vir al drie leerders is die afgelope Dinsdag (28 November) in Klapmuts Primêr se skoolsaal gehou, gevul met kleurryke blomme, waar hul maats en onderwysers afskeid van die drie leerders kon neem.


