Klapmuts-man oorleef grusame aanval; mes steek gat regdeur bors

’n Tiener van Klapmuts is die afgelope Sondagmiddag tydens ’n grusame voorval met ’n mes in die bors gesteek, wat daartoe gelei het dat van sy ingewande uitgeval het en teruggedruk moes word.


’n Tiener van Klapmuts is die afgelope Sondagmiddag tydens ’n grusame voorval met ’n mes in die bors gesteek, wat daartoe gelei het dat van sy ingewande uitgeval het en teruggedruk moes word.

Dít is volgens Veronica Galant, ’n paramedikus van die Victory Injury Care Foundation in Klapmuts, wat gereeld mense in hierdie gemeenskap met die skoonmaak van wonde bystaan.

Volgens haar het Reginald Diedericks (18) veelvuldige steekwonde opgedoen, maar een in die bors het die grootste gevaar ingehou omdat dit so diep was dat dit deur sy lyf tot by sy rug gestrek het.

“Die wonde was naar. Dit was orals oop. Ek kon byna regdeur hom sien,” het Galant in ’n artikel in Netwerk24 gesê.

Alexander Muller, ’n niggie van Diedericks, het aan die Paarl Post gesê die voorval het nagenoeg om 18:00 in Arum Lilystraat in Klapmuts plaasgevind.

Volgens haar het haar neef minstens drie of vier steekwonde opgedoen.

Galant verduidelik dat Diedericks direk ná die voorval aan haar deur kom klop het, waarna haar man haar geroep het en sy dadelik opgespring het om te help.

Wat sy hierna gesien het, was ’n grusame toneel wat steeds in haar gedagtes ronddwaal.

Ek het sy [Diedericks] swart hemp oopgeknip en toe het sy binnegoed deur sy bors begin uitval, waarna ek dit moes terugdruk.
Veronica Galant, Victory Injury Care Foundation

“Ek het sy [Diedericks] swart hemp oopgeknip en toe het sy binnegoed deur sy bors begin uitval, waarna ek dit moes terugdruk.”

“Ek het vir die mense om my gesê om my te help, en om gaas te bring en komberse in die kar te sit omdat hy baie gebloei het.”

Galant het dadelik besef dat Diedericks dringende mediese hulp nodig het, waarna sy in haar eie motor met hom na die Stellenbosch- provinsiale hospitaal gejaag het, begelei deur die brandweer.

Volgens haar was geen ambulans beskikbaar nie.

“Hy het baie bloed verloor en met sy aankoms by my huis het hy al weggeraak en weer bygekom.”

“Ek het komberse dik in my kar laat sit, maar hy het deur dit gebloei,” sê Galant.

Nadat Galant Diedericks na die hospitaal in Stellenbosch geneem het, is hy oorgeplaas na die Tygerberg-hospitaal se trauma-eenheid, waar hy tans aansterk en by sy volle positiewe is.

Volgens haar blyk dit dat Diedericks weens die ernstige aard van sy beserings vir ’n wyle in die hospitaal sal wees voordat hy ontslaan word.

Daar is tans onsekerheid oor die motief vir die aanval, veral omdat Diedericks bevriend was met sy aanvaller, volgens Muller.

Volgens sers. Madilyn Dombas, ’n woordvoerder van die Klapmuts-polisie, is geen saak nog by die polisie aangemeld nie. Die voorval word dus nie ondersoek nie.

Muller sê sy is onseker of die familie ’n saak by die polisie gaan aanmeld.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.