Keith Jacobs. Foto: Klapmuts se dinge/ Facebook


Tydens ’n tragiese voorval die afgelope naweek is Keith Jacobs, ’n geliefde Klapmuts-inwoner en werknemer by die BP-vulstasie in dié dorp, doodgesteek.

Volgens Jean Jacobs, ’n familielid van Keith, het die voorval Saterdagoggend kort ná middernag in Mosesstraat naby die Sevende Laan-taverne plaasgevind.

Jacobs het gesê dat kort hierna het ’n vriend van Keith homself by die Klapmuts-polisie oorgegee, waarna hy inhegtenis geneem is vir die moord op Keith.

Na wat verneem word het daar ’n woordewisseling tussen Keith en sy vriend ontstaan, wat daartoe gelei het dat Keit met ’n mes gesteek is. Hy is op die toneel dood verklaar.

“Hy het in die arms van ’n ander vriend gesterf,” het Jacobs gesê.

Jacobs het verduidelik dat Keith en sy vriend reeds vir ’n ruk lank in ’n struweling betrokke was. Volgens haar is die Jacobs-familie “gebroke” oor die voorval omdat die twee vriende saam grootgeword het.

“Ons [die Jacosb-familie] sal vir Keith onthou as grapperig, vol lewe, en ’n absolute mense-mens,” het Jean gesê.

Medelye het op ’n Klapmuts-gemeenskapgroep op Facebook ingestroom na sy dood met veral kliënte van die BP-vulstasie wat kommentaar gelewer het oor hoe “behulpsaam” en “vriendelik” hy was.

Keith het vir ongeveer drie jaar by die vulstasie gewerk.

Hy laat ’n meisie en vier kinders agter waarvan die jongste kind vyf maande oud is.

Die Klapmuts-polisie het nie kommentaar gelewer oor die voorval nie.

You need to be Logged In to leave a comment.