Duggie Ntoyise en die berugte “blondine” van die Klapmuts-hotel, wat Vrydag vir R40 000 opgeveil is.

Lise Beyers

Vrydag is met groot feesviering amptelik van die Klapmuts-hotel se geliefde kroegman, Duggie Ntoyise, afskeid geneem.

Hierdie steunpilaar van die hotel is al 61 jaar lank ’n bekende gesig wat die gewilde kroeg met ’n ystervuis regeer het.

Duggie het tot onlangs nog aktief drankies geskink, maar vroeër vanjaar, op die ouderdom van 81 het hy besef dit is nou tyd om ’n bietjie te gaan rus.

Met dié aankondiging het die nuwe eienaar van die Klapmuts-hotel, Mark Alport, dadelik ingespring en planne begin maak om Duggie met sy aftrede te help.

So is die Doenit-vir-Duggie-veldtog op die been gebring met die eerste weergawe hiervan wat Vrydag by die hotel afgespeel het, waar ’n welwillendheidsveiling gehou is. Al die opbrengste hiervan gaan na ’n trust wat vir Duggie geskep is.

Onder die goedere wat opgeveil is, was skenkings van wyn, lammers, ’n spitbraai, ’n skaapkop-en-afval-ete vir 20 mense, vakansieverblyf en selfs ’n spoggerige 4×4-pakket van die wêreldbekende renjaer Sarel van der Merwe, wat ook die veiling bygewoon het.

Selfs ’n dop vir tien mense, die laaste wat Duggie agter die ou houtkroegtoonbank van die hotel sou skink, is opgeveil.

Maar, die groot trekpleister van die dag was die opveil van die bekende plakkaat van die bostuklose vrou wat al dekades lank waghou oor besoekers aan die Klapmuts-hotel.

En die bie-koors het letterlik hoog geloop toe die opveil van die wulpse blondine begin het.

Dit was vir almal ’n reuseverrassing toe ’n sakeman uiteindelik ’n reusagtige R40 000 vir hierdie plakkaat uitgehaal het.

Dit kan nie 100% bevestig word wat die oorsprong van hierdie plakkaat is nie, maar die gewilde storie hiervan loop so:

Die plakkaat dateer glo uit 1958. Destyds is enige materiaal wat ’n vrou sonder bostuk uitgebeeld het as pornografie bestempel en dus streng verbied. Daar was selfs ’n spesiale polisie-eenheid wat seker gemaak het dat sulke verbode beeldmateriaal nie vertoon word nie.

Die eienaar van die hotel destyds was die bekende Paarliet Issie Hodes. Issie was ’n man wat hom nie laat voorskryf het nie.

Die gesprek oor die plakkaat het eendag in die kroeg opgeduik tussen polisiemanne wat op hierdie “pornografie” beslag gelê het, en so is dit aan Issie oorhandig, wat dit sonder om te skroom hoog teen die muur en duidelik in almal se sig opgehang het.

Niemand gaan immers vir Issie sê wat hy in sy kroeg mag vertoon en wat nie.

En so loop die legende dat dié blondine langer as 60 jaar in die Klapmuts-hotel tuisgegaan het.

Alport het gesê die veiling was ’n reusesukses en hy het almal wat betrokke was, bedank. Hy het bygevoeg nog sulke geleenthede sal gehou word as geldinsameling vir Duggie se aftrede.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article