Die gesteelde fiets, wat deur die GPF se Veronica Galant opgespoor is.

Die voorsitter van die Klapmuts-gemeenskaps­polisiëringsforum (GPF), Veronica Galant, het verlede Dinsdag (17 Junie) drie vermeende boewe in ‘n japtrap vasgetrek nadat hulle ‘n fiets van ‘n erf in die Pinotage Villa’s-sekuriteitskompleks in Klapmuts gesteel het.

Volgens Galant kon sy nie dié misdaad oplos sonder die hulp van haar kollegas van die GPF asook informante wat leidrade aan haar verskaf het nie.

Sy vertel dat Pinotage Villas se kompleksbestuurder, Hermann Botha, haar om ongeveer 08:30 die Dinsdag beeldmateriaal gestuur het, wat wys hoe ‘n man in die middernagtelike ure oor die kompleks se muur spring.

Daarna, volgens Botha, het die boef, wat blykbaar onder die Klapmuts-gemeenskap as ‘n gereelde misdadiger bekend is, toegang tot die eienaar van die fiets se erf gekry deur die tuinhek oop te maak, waarna hy die fiets gevat het.

Die boef en sy twee medepligtigges, ‘n vrou en ‘n man, is toe weg met die fiets.

Hulle het dit daarna vir R150 aan ‘n Klapmuts-inwoner verkoop.

Die fiets is, soos verneem word, vir ongeveer R3 000 gekoop.

Volgens Galant is dwelmgebruik ‘n groot probleem in dié Bolandse dorp. Vermoedelik is die geld vir die verkoop van die fiets vir hierdie doel aangewend.

Galant verduidelik dat sy die koper van die fiets in haar ondersoek opgespoor het, waarna sy kontak gemaak en die koper se samewerking gevra het.

Toe die koper ingestem het, het hulle aan Galant verduidelik dat hulle nog net R100 vir die fiets betaal het, waarna een van die beweerde misdadigers later dieselfde dag die oorblywende R50 sou kom haal het.

Galant het toe op haar voete gedink en besluit dat sy die boewe sou vastrek wanneer hulle kom vir die geld – ‘n plan wat toe gewerk het.

Met Galant en nog ‘n lid van die Klapmuts-GPF, Gillian Joubert, se aankoms by die koper se huis was een van die boewe daar met die fiets, waarna Galant op haar toegeslaan het.

Galant is toe na die Pinotage Villas saam met die misdadiger, waarna die ander twee misdadigers ook later opgedaag en buite die kompleks se hek gestaan en wag het.

Die Klapmuts-polisie het kort hierna opgedaag en al drie beweerde diewe is om ongeveer 18:30 in hegtenis geneem, waarna hulle die afgelope Maandag (30 Junie) in die hof verskyn het.

Ná die dag se optrede is die fiets aan die regmatige eienaar terugbesorg.

Volgens Botha loop die Pinotage Villas elke nou en dan onder misdaad deur en is dit moeilik om hierdie soort wangedrag in so ‘n misdaad-geteisterde gebied hok te slaan.

Die Paarl Post het na sers. Madilyn Dombas, ‘n woordvoerder vir die Klapmuts-polisie, uitgereik maar geen terugvoer is ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.