Met my onlangse besoek aan Bloemfontein het ek besef dat daar dalk tog waarheid steek in besoekers se mening dat inwoners van Drakenstein met die brood onder die arm kla.

Ons het die Woensdag laatmiddag in Bloemfontein aangekom en my mond het oopgehang vir die sakke rommel wat in die woonbuurt waar ons tuis gegaan het lê. Op die sypaadjies en op die middelmannetjies. Ek het dadelik ’n foto geneem, want ek kon my oë nie glo nie. Hier in die Paarl kla ons as ons vullishouers sekere dae eers leeggemaak word as dit half skemer raak, wat sal ons sê as ons vullis so in hope voor ons deure moet lê – wonder ek steeds! Daardie Vrydagoggend toe ons huiswaarts keer, toe lê die sakke vullis nog net daar.

Wat ek wel moet sê is die motors jaag nie daar soos hier in die Paarl nie, dalk omdat die slaggate waaroor ek hier kla is niks in vergelyking met die wat jy daar moet probeer vermy nie. Maar my man herinner my toe ook dat jy nie appels met pere moet vergelyk nie.

Oor my ervaring van die inwoners moet ek wel vir die mense van Bloem prys vir hul bedagsaamheid en geduld in die verkeer – hiervan kan die Paarliete beslis iets by hulle leer!


Gayle,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.