Die Kings, die wenners van vanjaar se opwindende T10-krieketreeks op Bolandpark in die Paarl.Foto: Ernst Kilowan


Die Stellenbosch Kings is Sondag as die eerste Boland T10-kampioene gekroon nadat hulle die Paarl Rocks met 19 lopies op Bolandpark geklop het.

Die Kings het al vyf hul eerste wedstryde van die toernooi verloor, maar het toe hul momentum gevind en sewe wedstryde agtereenvolgens gewen om die titel te verseker.

Die span, onder die leiding van die kaptein, Morne de Vries, en hul afrigter, Noor Rhode, het eerste gekolf nadat hulle die loot gewen het.

Die openingskolwers Werner Brand (23 van 18 balle) en Ethan Cunningham (11 van agt balle) het soos ’n veldbrand weggespring en ’n vennootskap van 45 in net vier boulbeurte opgebou voordat die plaaslike held Nathan Jacobs met sy eerste en derde aflewerings die paaltjies van albei openingskolwers platgetrek het.

Die Kings se beurt het effens in die middelorde gesukkel, maar ’n kort en kragtige bydrae van Aya Gqamane (16* van sewe balle) het hulle tot ’n respekvolle syfer van 93/7 in hul toegelate 10 boulbeurte gehelp.

Jacobs (2/14) en die kaptein, Waylain September (2/6) was die Rocks se beste boulers.

In die jaagtog het Divan Swanepoel (2/3), die openingsbouler van die Kings, die Rocks vroeg twee swaar houe toegedien toe hy Clyde Fortuin (3) en Keith Dudgeon (0) binne ’n paar minute uitgeboul het.

Adrian du Toit (22) en Jevano Baron (20) het egter ’n vennootskap van 42 opgebou, wat die Rocks in die wedloop gehou het. Die duo is toe vinnig agtereenvolgens uitgehaal, wat die jong Jacobs met die taak gelaat het om sy span oor die wenstreep te kry.

Die Kings het daarin geslaag om die momentum te stuit met die afbreekbouler Rayyaan Rhode (2/10) en briljante veldwerk van die grenswagters, wat die Rocks op ’n kritieke tydstip geknel het toe hulle die bal oor die grens moes slaan.

Uiteindelik het Jacobs nie die kolfbeurte gekry nie, en die Kings het met 19 lopies gewen.

Hulle het ’n geldprys van R80 000 ontvang, terwyl die Rocks R20 000 as naaswenners gekry het.

Die West Blues-kaptein, Imraan Manack, het die SimCash MVP-prys (R5 000) gewen nadat hy met beide die kolf én die bal in die toernooi uitgeblink het.

James Fortuin, uitvoerende hoof van Krieket Boland, het die toernooi as ’n groot sukses bestempel en almal geprys vir hul rolle in die gedenkwaardige eerste Boland-T10-toernooi.

You need to be Logged In to leave a comment.