Kindersorg Suid-Afrika se Paarl-tak is op soek na mense wat bereid is om as vrywilligers opgelei te word en sodoende te help om kinders in die gemeenskap te beskerm.
Die organisasie wil opleiding verskaf aan mense wat in die bedieningsarea van Amstelhof, Langvlei, Lustigan Village, Boland Park, Mackierstraat en Maystraat woon om as vrywilligers vir die Isolabantwana-projek op te tree deur hulle met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om sodoende mishandeling en verwaarlosing van kinders te voorkom.
Isolabantwana beteken “oog op die kind”. Volgens Benita Williams, maatskaplike werker van Kindersorg Suid-Afrika in die Paarl, is die projek in 2000 gestig spesifiek vir kinders wat aan mishandeling blootgestel word.
“Sedert die jaar 2000 is 244 kinders verwyder ingevolge Artikel 150 van die Kinderwet 38/2005,” sê sy.
Williams sê die opleiding wat deur verskillende rolspelers aangebied word, fokus op verskeie aspekte, insluitend noodhulp (ambulansdiens), gesinsgeweld (Athlone House of Strength), seksualiteit (gesondheidsbevorderaar: TC Newman-hospitaal), alkohol en dwelmmisbruik (Suider-Afrikaanse Neurologiese Rehabilitasievereniging), ouerleiding en kindermishandeling (Norsa) en MIV (Hospice). Hierdie geleentheid kan ook beskou word as liefdadigheidswerk vir die gemeenskap.
Williams sê vrywilligers moet ouer as 25 jaar wees en moet polisieklaring hê. Geen kwalifikasie is nodig nie. Die vrywilligers sal saam met drie gekwalifiseerde maatskaplike werkers van Kindersorg werk wat Williams, Franzelle Coldberg en Sheree Conradie insluit.
Die opleiding sal plaasvind by die kantoor van Kindersorg Suid-Afrika se Paarl-tak op die hoek van Paulus- en Mackierstraat.
Williams sê wanneer ’n vrywilliger bewus word van ’n voorval waarin ’n kind moontlik mishandel of verwaarloos word, moet hulle onmiddellik die maatskaplike werkers kontak of dit aanmeld by die kantoor (Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 16:00).
“Indien ná 16:00 en oor naweke kan die polisie gekontak word as daar ’n krisis is. Die polisie sal die na-uurse maatskaplike werker by die departement van maatskaplike ontwikkeling kontak.”
Williams verduidelik wanneer ’n kind verwyder word van die woning waar die mishandeling plaasgevind het, word ’n vorm 36 uitgereik aan die mense in wie se sorg die kind was, soos bepaal deur die Kinderwet 38/2005. Die betrokke kinders word dan in ’n tydelike plek van veiligheid geplaas.
“Die maatskaplike werkers is verantwoordelik vir die opening van die kinderhofverslag en moet dit binne 48 uur by die kinderhof indien. ’n Kinderhofbevel van 90 dae word deur die landdroskantoor uitgereik vir die plasing van die betrokke kind,” sê Williams.
Binne die 90 dae-tydperk moet die maatskaplike werker ’n finale kinderhofverslag voorsien ingevolge Artikel 155 om vas te stel of die betrokke kind versorging en beskerming nodig het.
Williams voeg by dat hierdie projek al oor die jare talle suksesverhale opgelewer het met talle kinders wat matriek voltooi en sommiges wat selfs verder gaan studeer het en vandag onderwysers, sjefs, verpleegsters en haarkappers is.
Mense wat as vrywilliger wil aansoek doen, kan die plaaslike Kindersorg-tak skakel by 021 862 6182. Die sluitingsdatum is 28 Februarie 2023.




