Chantélle Hartebeest
Die welstand en versorging van kinders is ‘n ongelooflike belangrike taak waarin almal ‘n verantwoordelikheid het, veral te midde kinderbeskermingsweek wat van 29 Mei tot 5 Junie plaasvind.
Die hofsaak rakende die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith van Saldanhabaai het onlangs opnuut die kollig op kindersorg geplaas, veral omdat bevind is die onskuldige kind se ma het ‘n hand in haar verdwyning gehad. Kelly Smith het haar dogtertjie se lewe as net R20 000 werd geag toe sy die weerlose kind in Februarie verlede jaar aan vreemdelinge verkoop het.
Soos klein Joshlin bestaan baie ander kinders wat ‘n tekort aan behoorlike omgee, versorging en beskerming het. Die tema van hierdié week is juis “werk saam om geweld teen kinders te beëindig”.
Volgens Leonice Fisher, ‘n maatskaplike hulpwerker by Badisa Wellington, is kindersorg en die beskerming van kinders nie net hierdie week belangrik nie, maar elke dag. Badisa is ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat verbind is tot maatskaplike ontwikkeling deur gemeenskapsgebaseerde programme in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap.
“Gemeenskappe kan hande vat met organisasies deur aan te meld wanneer hulle oplet dat kinders nie goed versorg word nie. Om te sê ‘dinge is nie fine by my buurvrou se huis nie – ek kom agter die kinders is vuil, hulle is laat op straat of word geslaan; ek is ‘n bietjie bekommerd; kan julle uitreik en kyk of alles fine is?’ As jy ‘n saak aanmeld, maak dit nie van jou ‘n piemper nie. Ons moet teruggaan na ‘my kind is jou kind’. Dit is hoe ons kan veg vir goeie kindersorg in die gemeenskap. Die skole moet inisiatief kan neem en ons het almal ‘n verantwoordelikheid om kindermishandeling en verwaarlosing aan te meld.”
Fisher sê mense wat hulp kort wanneer dit by kindersorg kom, moenie bang wees om uit te reik na organisasies soos Badisa nie.
“Dit is belangrik dat mense moet weet van die hulpbronne wat beskikbaar is en watter stappe teen ‘n ouer wat kinders mishandel of verwaarloos, gedoen kan word. Dit geld ook vir die ouer wat dalk bang is om te sê ‘ek kan nie na my kind kyk nie – wat is die alternatief?’. Dit maak nie van ‘n ouer ‘n slegte ouer as hy of sy enige welsynsorganisasie betree om te sê ‘ek kort hulp’ of ‘ek is op dwelms en ek moet myself net gou uitsorteer in terme van miskien na ‘n rehab te gaan – kan julle my help?’.
“Kinderverwaarlosing is ‘n pandemie. Net soos geslagsgeweld is kinderverwaarlosing ‘n pandemie, want ons beveg dit elke dag. Kinders word verwaarloos en daar word nie in hulle basiese behoeftes voorsien nie.”
Sy wys uit daar is verskillende maniere hoe kinders nie behoorlike kindersorg ontvang nie, soos wanneer kinders nie kroniese medikasie ontvang nie, wanneer die kind se inentings nie op datum is nie, of kinders wat uit die skool bly om saam met hul ouers te bedel.
Om meer bewusmaking rakende kinderbeskerming te skep, bedryf Badisa ook die Poppie-projek, waardeur hulle geld insamel om kinders te ondersteun. Met dié projek verkoop hulle verskillinde goedere soos yskasmagnete, armbande en plakkers.
“Almal wat ‘n armband of ‘n plakker gekoop het, word gevra om dit op 30 Mei te dra om bewusmaking rakende kinderbeskerming te bevorder.”
• Die plaaslike organisasie Monte Christo Miqlat (MCM) in die Paarl gaan môre (Vrydag 30 Mei) saam met Badisa Paarl aan ‘n optog oor kinderbeskerming deelneem. Die beginpunt is om 10:00 by die Tiffany’s-gemeenskapsentrum. Die HearX-stigting besoek ook Tiffany’s, waar die gehoor en sig van kinders (18 maande tot 5 jaar) getoets sal word.


