Die Drakenstein-munisipaliteit het verlede week aangekondig hy het ’n veiligheidsplan ingestel om reg en orde asook veiligheid in die dorp tydens die vakansie te handhaaf – veral op die oewer van die Bergrivier in die Paarl.
Hierdie plan begin egter eers Vrydag (1 Desember) en die afgelope naweek, toe die kwik reeds begin styg het, het ’n groep kinders byna in die Bergrivier by die keerwal naby Markstraat verdrink.
’n Inwoner wat nie geïdentifiseer wil word nie, het Maandag ’n video aan Paarl Post gestuur en vertel hoe hy gesien het hoe mense langs die rivier by die gevaarlike keerwal piekniek hou en hoe die kinders in die water baljaar.
Die keerwal is ’n uiters gevaarlike deel van die rivier en het reeds tot vele sterftes gelei. Dit sluit in ’n reddingswerker wat tydens ’n oefensessie hier in die moeilikheid beland het.
Die Drakenstein-munisipaliteit het dus ’n heining in die omgewing van die keerwal aangebring, asook waarskuwingsborde, sodat mense nie daar naby kom nie, maar die heining lê tans plat en die een bord aan Bergrivier-boulevard se kant van die rivier lê ook plat. Verder word hierdie waarskuwings eenvoudig geïgnoreer.
Die bekommerde inwoner het vertel die kinders was eensklaps in die malende water van die keerwal en hulle was merkbaar in die moeilikheid. Hy en ander mense het hulle te hulp gesnel met behulp van die pienk reddingsboeie, wat deur ’n private organisasie op die oewer van die rivier aangebring is.
Gelukkig is die rivier tans laag en die kinders kon na veiligheid gebring word, wat ’n ander storie sou gewees het indien die watervlak hoër was, vertel die inwoner.
Hy het ook gesê hy het die wetstoepassingsnoodnommer geskakel, maar het geen antwoord ontvang nie.
“Dit is ’n uiters gevaarlike situasie Ek het deur die jare al baie verdrinkings hier in die rivier gesien en dit maak my bang, maar dit gaan net weer gebeur indien die munisipaliteit nie daadwerklike stappe doen om toegang hier te beheer nie.”
Volgens die Drakenstein-munisipaliteit sal hulle die kwessie van misdrywe langs die Bergrivier, sowel as dié van die vele oortredings van munisipale verordeninge, van Vrydag (1 Desember) tot 28 Februarie 2024 met ’n veiligheidsplan aanpak.
Dié plan is daarop gemik om die gebied te bestuur en openbare veiligheid gedurende die somer op ’n geïntegreerde en volhoubare wyse te bevorder, het Eda Barnard, die nuwe direkteur van openbare veiligheid by die munisipaliteit, gesê.
Hierdie plan sal uitgevoer word saam met operasionele vennote soos die munisipaliteit se wetstoepassingsdienste, verkeersdienste, brandweer- en reddingsdienste, die Suid-Afrikaanse polisiediens, private veiligheidsmaatskappye, buurt- en plaaswagte, die mediese nooddienste (EMS) en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s).
In hierdie tydperk sal die Bergrivier-gebied in Drakenstein gereeld deur wetstoepassingsagentskappe patrolleer word (deur voet-, fiets- en voertuigpatrollies sowel as voertuigbeheerpunte), en oortredings van die wet sal hanteer word.
Tydelike toiletgeriewe sal ook aangebring word.
. Skakel 080 131 3553 tolvry (24 uur beskikbaar) of 021 807 8508 (24 uur) om enige onwettige aktiwiteite langs die Bergrivier of elders in die Paarl aan te meld.





