Om in ’n kinderhuis groot te word, is nie ’n alleenstryd nie.

By die Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum (HAM), wat al meer as ’n eeu bestaan, is almal een groot familie.

Hiér word ’n veilige hawe geskep en die kinders word beskerm teen fisieke en emosionele mishandeling.

Kinders word waardes en norme geleer en ook hoe om hul drome na te jaag.

Só kan twee matrikulante Kosie* en Piet* van die kinderhuis getuig.

Sedert die ouderdom van 12 jaar oud moes Kosie en sy sussie by die HAM gaan woon omdat sy ma nie meer vir hulle kon sorg nie.

Kosie se ma het aan depressie gely en sy het by die Badisa-kantoor in Kraaifontein gaan aanklop om hulp.

Dit is hierna dat hy en sy sussie deel geword het van die familie by die kinderhuis. Hy en sy sussie kan wel in vakansietye en uitnaweke by hul ma gaan kuier.

Kosie sê dat in die begin was dit nie maklik om in die kinderhuis aan te pas nie, maar ná ’n maand het hy reeds begin gewoond raak aan sy nuwe familie.

“Dit was ’n aanpassing want skielik was daar ’n klomp roetines in die kinderhuis waaraan ek nie gewoond was nie. Dit is die etenstyd, studietyd of slaaptyd en die reëls moet stiptelik nagekom word,” vertel hy.

Vir Piet en sy broers en suster, was die plaas- en straatlewe al wat hulle geken het totdat hy en drie broers in 2010 in die kinderhuis beland het.

“Ons sou net tydelik hier bly, maar ek het byna dadelik gesien dat hier by die kinderhuis lê ’n beter lewe vir my en my broers voor. Ek het gevra dat ons asseblief moet aanbly.,” vertel Piet.

Piet besef dat hy die regte keuse gemaak het.

“Hier het ek van respek en dissipline geleer en om hard te leer en hard te werk.

Kosie en Piet speel altwee in hul skool se o. 19 A-rugbyspan en presteer ook goed as dit kom by hul skoolwerk.

Kosie gaan volgende jaar onderwys by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) studeer.

“Ek het my liefde vir kinders in die kinderhuis ontwikkel. Ek wil terugploeg in die kinderhuis vir alles wat hulle vir my beteken het. Ek wil ook eendag trou en twee kinders hê en goed na hulle omsien, soos die kinderhuis dit vir ons doen,” glimlag hy.

Hy moedig jonk en oud aan dat hulle nie na die negatiewe situasie moet kyk nie, maar na die geleenthede wat gebied word.

Piet se groot droom is om ’n polisieman of ’n bewaarder te word. Die afgelope drie jaar dien hy op sy skool se verteenwoordiger raad vir leerders (VRL) en boonop doen hy ook baie goed in modelwerk.

Indien jy betrokke of ’n bydrae wil lewer aan HAM se mentorskap en beursfonds vir die matrieks kan jy

021 873 3834 bel.

Om hul identiteit te beskerm is Piet en Kosie byname.

You need to be Logged In to leave a comment.