Die Khula Development Group (KDG), ’n organisasie sonder winsoogmerk, het ’n suksesvolle en uiters produktiewe kinderbeskermingsprojek van 8 tot 20 Mei gehou.
Die organisasie sê sy doel vanjaar was om in Mei, wat ook Kinderbeskermingsmaand is, meer empatie in kinders te ontwikkel deur middel van dieresorg in gemeenskappe en om omgee te bevorder.
KDG se missie is om skoolbywoning van leerders in graad R tot graad 4 te bevorder. Die organisasie lewer dienste aan nege skole in die Paarl, Stellenbosch en Klapmuts.
Volgens Carien van Zyl, die hoof- maatskaplike werker by KDG, hoor hul personeel dikwels van jonger kinders wat diere mishandel en selfs doodmaak, wat baie kommerwekkend is, aangesien hierdie gedrag ’n negatiewe impak op kinders se emosionele ontwikkeling kan hê.
“Hierdie projek is op navorsing deur worldanimal.net gebaseer, wat aandui dat daar ’n verband is tussen geweld en dieremishandeling. Verder is bevind dat geweld in gemeenskappe verminder kan word deur empatie in kinders te ontwikkel deur hulle te leer om diere te versorg en hulle nie seer te maak nie.”
Hierdie projek is in samewerking met vyf primêre skole in Paarl-Oos aangebied: Magnolia Primêr, Nederburg Primêr, New Orleans Primêr, Orleansvale Primêr, asook Paarlzicht Primêr. KDG se storiekarakters, GoGo & SoSo, het vertonings by hierdie vyf skole aangebied ten einde die boodskap oor te dra dat diere net soos mense sekere behoeftes en emosies het.
“Daarom het mense die verantwoordelikheid om diere te versorg en hulle nie seer te maak deur hulle byvoorbeeld met klippe te gooi nie.” Die opvoering is afgesluit met die kernboodskap “Mense wat vir diere omgee, gee ook vir ander mense om”.
Die dierebeskermingsorganisasie Paarl Rescue Obsessed het met KDG hande geneem tydens die vertonings om dierebeskerming te bevorder. Hulle is aktief in die Paarl-Oos-gemeenskap betrokke, waar hulle nie net mishandelde en verwaarloosde diere red nie, maar ook dienste aanbied soos inenting, diere “dip” en steriliseer.
Van Zyl voeg by dat baie positiewe terugvoer rakende die projek van die betrokke skole ontvang is. KDG wil verder die gemeenskappe aanmoedig met die volgende boodskap: “Help ons om empatie in kinders te ontwikkel, want kinders wat omgee, kan lei tot gemeenskappe wat omgee en saam neem ons hande om ’n beter toekoms te bou.”