’n Jaar gelede sou ’n ouma van Wellington nooit kon droom dat haar slaaptydstories aan haar tweeling-kleinkinders drukkers toe sou gaan nie.
Wellingtonner Lizma van der Berg, ouma van ’n tweeling, gaan môre na die drukkers in Goodwood om na die eerste kopie van haar Kabouterstories 1 en 2, die slaaptydstories wat sy vir haar tweeling-kleinkinders uitgedink het, te loer. En oor ’n week vind haar eerste boekbekendstelling plaas.
“Dalk, as ek eers die eerste eksemplaar in die hand het, sal ek kan glo dat dit werklik is,” gesels sy op die vooraand van dié groot geleentheid.
Dit behoort ’n kleurvolle belewenis te wees, want Kabouterstories is geïllustreer deur Kapenaar Marie Prinsloo, wat onlangs ook vir ’n kinderbybel deur skrywer Wendy Maartens, verantwoordelik was.
Benewens vyf stories in elke boek is daar ook rympies en ’n saamsing-CD.
Avontuurstories vir agies 1 en 2 en Filipina, die vet feetjie 1 en 2 volg ook binnekort.
Dié reekse word deur Publishing World SA uitgegee.
Lizma verklap dat sy ook reeds hard aan die werk is met nog stories vir hierdie reeks.
Sy’t begin om kinderstories eintlik maar net vir haar kleinkinders, die vyfjarige tweeling Carel en Liza van den Bank, uit te dink. Die tweeling is prematuur gebore, en dus moes ouma (en oupa) vroeg-vroeg inspring om met hul versorging te help.
Hulle woon saam met Van den Berg en haar man, André, en hul ouers Danie en Christi-Mari van den Bank, digby die Boland rugbystadion.
Van den Berg is eintlik ’n gekwalifiseerde kleuterskooljuffrou wat, onder meer, in George en Mosselbaai skoolgehou het. André haar universiteitsliefde, het sy ontmoet toe sy aan die Universiteit Stellenbosch spraak en drama gaan studeer het.
“Ek het ’n baie nou band met die tweeling,” vertel sy.
“Carel se hande staan vir niks verkeerd nie en is lief om te boor en te kap, terwyl Liza weer die ene met die goeie verbeelding is, vertel Lizma.
Saans het sy begin stories opmaak om hulle voor bedtyd rustig te maak, en ook om ’n liefde vir lees by hulle te kweek.
“Ouma, jy vertel dan nie elke keer dieselfde storie op dieselfde manier nie,” het die tweeling op ’n aand vir haar gesê.
Dié oudkleuterskooljuffrou besef toe dat kinders eintlik lief is daarvoor om dieselfde verhaal keer op keer op dieselfde manier te hoor, en besluit toe om dit neer te pen.
Carel en Liza was natuurlik meestal die brawe hoofkarakters daarin, en later het Lizma ook die verhaaltjies van ander familielede en die name van hul kleuterskoolmaatjies by Pikkieland daarby begin inweef.
Oupa Andre het baie van die idees vir Avontuurstories vir agies gegee.
“Hy’s baie lief vir die veld en natuurbewaring, en kamp al met die tweeling vandat hulle twee is, en nog in die doeke,” vertel sy.
Voor die bekendstelling van Maartens en Prinsloo se kinderbybel in 2015 in Wellington het Lizma ’n foto daarvan in die Paarl Post gesien, en dadelik aangetrokke tot die sketse gevoel. Sy’t Prinsloo gekontak en gevra om die illustrasies vir Kabouterstories te maak.
“Ek wou eintlik net ’n kopie van my stories vir die tweeling ‘as hul nalatenskap’ saamstel, maar danksy Prinsloo se inspirasie, het ek besluit om die mark te toets en ’n uitgewer te kontak”, vertel Van den Berger verder.
Sy het in Mei Kabouterstories en Prinsloo se illustrasies daarvan aan die uitgewers voorgelê, asook haar manuskrip vir Avontuurstories vir agies. Daarna het die wiele besonder geseënd begin draai.
Van den Berg vertel dat haar eie liefde vir boeke en veral fantasiereekse van haar ma kom, en dat sy as tiener in Albertinia begin skryf het.
Die lewe het sy draaie geloop, en tydens die grootmaakjare van haar eie twee dogters was daar nie juis kans vir boekpraatjies nie.
Later het sy vir die plaaslike waardeerder Erik Marais begin werk.
Al is sy al die afgelope jaar semi-afgetree, werk sy nog steeds drie oggende by sy kantoor.
En wanneer sy nie haar rol as ouma vervul nie, gaan besoek sy deesdae ook graag kleuterskole om daar vir die kinders uit haar boeke voor te lees.
• Die boekbekendstelling vind op Maandag 5 Desember 2016 by die Monte Video-gastehuis buite Wellington plaas en begin 18:30 vir 19:00.
Belangstellendes wat dit gratis wil bywoon, of ’n boek of twee wil bekom, kan Van der Berg bel by 083 235 3187.