Die geskiedkundige Bethany-gebou in Klein Drakensteinweg in die Paarl is al langer as 10 jaar glo ‘n slaapplek vir misdadigers en is in die proses erg gevandaliseer en van sy historiese waarde ontneem.
‘n Khoisan-groep, wat vroeg vandeesmaand by die gebou ingetrek het, sê nou hulle verstaan nie hoekom daar weerstand is teen hul pogings om die bykans 100 jaar oue gebou na sy voormalige glorie te herstel nie.
Die groep kom van die Xam-kraal, geleë langs die R45-pad tussen die Paarl en Franschhoek.
Daan van Wyngaard, die groep se leier, het vandeesweek tydens die koerant se besoek volgehou dat hulle nou “wettig” daar woon.
“Hierdie is een van vele geboue in hierdie munisipaliteit met erfenisstatus wat so verval het. Ons het hier ingetrek omdat ons nie stilsit en wil kyk hoe ons geskiedenis verlore gaan nie.
“Ons groep het ‘n diep en emosionele verbintenis met hierdie grond. Ons is nie hier met gruwelike voorneme nie, maar om die erfenisstatus van hierdie gebou te beskerm,” sê Van Wyngaard.
Volgens hom het die polisie en munisipale amptenare, wat deur wetstoepassers vergesel is, sedertdien ‘n besoek aan die gebou afgelê.
“Die polisie was hier saam met ‘n ander groep wat beweer dat die eiendom aan hulle verkoop is. Hulle kon egter tot nou nog nie die regte papierwerk toon om dit te staaf nie.
“Munisipale amptenare en wetstoepassers was verlede week hier om foto’s van die gebou te neem. Ons vraag is: Hoekom nou eers? Hierdie gebou het al langer as 10 jaar net al hoe erger verval.
“Noudat ons dit wil red en in ‘n sentrum wil omskep om die Khoisan-erfenis te beskerm en bevorder, is daar skielik teenstand. Ons moes hard werk om die tikkoppe hier uit te kry. Ons is skoon siek van al die gemors wat ons moes skoonmaak – en hier is nog baie wat skoongemaak moet word.”

Volgens Van Wyngaard is die langtermynplan om geld in te samel om die
gebou op te knap en dit dan in ‘n veeldoelige sentrum om te skep, wat spesifiek op die bevordering van die Khoisan-erfenis sal fokus.
Seraj Johaar, die direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het by navraag gesê die munisipaliteit is deur ‘n raadslid in kennis gestel dat die gebou onlangs beset is.
Hy voer aan dat die eiendom nie aan die munisipaliteit behoort nie. Die munisipaliteit kan dus nie toegang tot die eiendom beheer nie.
“Die eienaar is met ‘n kennisgewing bedien om die onveilige eiendom te beveilig. Geen terugvoer is tot op hede ontvang nie.”
Volgens Johaar mag die munisipaliteit nie bekendmaak aan wie die eiendom behoort nie.
Die munisipaliteit dra glo nie kennis van enige uitsettingskennisgewings wat aan die inwoners van die gebou beteken is nie.
Volgens Johaar word die eiendom as ‘n graad 3B-erfenisteken geklassifiseer.

Die Bethany-gebou is in 1926 opgerig en het ‘n belangrike rol in die opvoeding en gemeenskapsontwikkeling van die gebied gespeel.
Die gebou is oorspronklik opgerig weens ‘n groeiende behoefte aan onderwysfasiliteite, aangesien die skool wat in 1918 deur die Bethel Congregational Church in Lockupstraat (nou Textile-street) gestig is, vinnig uit sy oorspronklike perseel gegroei het.
Met die oprigting van die Bethany-gebou het die skool na hierdie nuwe fasiliteit in Klein Drakensteinweg erskuif, in ‘n gebied wat destyds as Die Rug bekend was.
Die skool het toe bekendgestaan as Huguenot Congregational Primary,
Bethany, en later as Huguenot United Congregational Primary.
Johaar sê die eiendom word deur die munisipaliteit ingevolge die verordening op probleemeiendomme beskou en bouplanne is onlangs vir die herstel daarvan goedgekeur.
You must be logged in to post a comment.