Die ongelukstoneel op die R44 waar een slagoffer op die toneel dood is.Foto: Verskaf


’n Kettingbotsing op die hoek van die Suid-Agter-Paarl-pad en die R44 het Maandagmiddag twee mense se lewens geëis.

Kapt. Jacobus Moos, bevelvoerder by die Klapmuts-polisiekantoor, sê die botsing het omstreeks 12:15 plaasgevind.

“Die inligting wat ons ontvang het, dui daarop dat twee vragmotors, ’n bakkie en ’n motor betrokke was. Een slagoffer is op die toneel dood en nog ’n slagoffer het later in Paarl-hospitaal gesterf.”

Volgens ’n ingeligte bron wat op die toneel was, het ’n bakkie en ’n kar by die stopteken by die Suid-Agter-Paarl-pad, wat by die R44 aansluit, stilgehou.

“Twee karre en die een vragmotor het afgeswaai. “Die ander vragmotor het toe van agter af gekom en teen die bakkie gebots.

“Een van die mense is toe van die bakkie af geslinger, tot bo op die vragmotor se wiele, as gevolg van die slag.

“Die slagoffer wat op slag dood is, het onder die kar beland,” sê dié bron.

Moos het nie uitgebrei oor enige ander mense wat in die ongeluk beseer is nie.

Die voorval word deur Klapmuts-speurders ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.