Inwoners van die vallei kan vanjaar uitsien na ’n hersiende Liggiesfees-program – dít in die vorm van die Drakenstein-Kersreeks wat in al die dorpe tussen 4 en 19 Desember sal plaasvind.
Die Drakenstein-munisipaliteit is tans besig met die tenderproses vir die Liggiesfees, ’n nag-padwedloop en die Drakenstein’s Got Talent-kompetisie. Die totale begroting vir die Drakenstein- Kersreeks is nog nie bekend nie, maar verlede jaar se fees het die belastingbetaler meer as R1,5 miljoen uit die sak gejaag en vanjaar se bedrag sal na verwagting heelwat hoër te wees.
Daar sal geen veranderings aan die formaat van die aanskakeling van die Kersliggies wees nie, maar die formaat word wel uitgebrei.
Nuut op die spyskaart is die Drakenstein’s Got Talent-kompetisie, wat onderskeidelik in die Paarl, Wellington, Gouda en Saron aangebied word. Semifinaliste sal gekies word om in die eindronde in Oktober vanjaar op te tree. Die wenner en eerste en tweede naaswenners sal gekies word om in Desember by die Liggiesfees in die onderskeie dorpe op te tree.
’n Langtafel word in Paarl Hoofstraat as deel van die Kersreeks beoog, maar die munisipaliteit het nog nie verder hieroor uitgebrei nie.