Kersfees-inkopies gaan vanjaar dalk nie so feestelik wees nie aangesien verbruikers in Suid-Afrika in die laaste maande van vanjaar deur vinnig stygende pryse op die rakke in die gesig gestaar is nadat inflasie in September die tweede agtereenvolgende maand versnel het – aangedryf deur stygende brandstof- en voedselpryse.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het vandeesweek gesê die jaarlikse wesens­inflasiekoers het in September tot 5,4% versnel teenoor 4,8% in Augustus, wat die koers op dieselfde vlak as Junie vanjaar bring.

Dit was effens bo markvoorspellings van 5,3%, maar het gemaklik binne die 3%-6%-teikenband van die Suid-Afrikaanse Reserwebank gebly.

StatsSA het gesê die vernaamste opwaartse druk kom van die prys van voedsel en nie-alkoholiese drankies, met vervoer wat tot 4,2% gestyg het teenoor ’n 0,8%-inkrimping in Augustus.

StatsSA se hoofdirekteur vir pryssta­tistiek, Patrick Kelly, het gesê die jaar­likse brandstofinflasie het van ’n 11,7%-inkrimping in Augustus tot 1,5% in September gespring ná drie opeenvol­gende maande in negatiewe gebied.

You need to be Logged In to leave a comment.