Geniet ’n aand saam met Kersvader op Paarlberg.

Credit: SYSTEM

Om die druk op hom te verlig, het Kersvader wéér besluit om solank vooraf geskenke uit te deel tydens die gewilde Desember-volmaanpiekniek by die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) volgende Saterdag (16 Desember).

’n Beeldskone aand met kindervermaak, speelparke en buitelugspeletjies vir die jongspan, asook ’n sonsondergang gevolg deur ’n volmaan en Kersvader, beloof om die dag in ’n onvergeetlike geleentheid om te skep.

Aangesien die piekniekreeks ten bate is van “Laat ons Lees!”, die ATM se geletterdheidsprojek, word besoekers aangemoedig om ’n nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Die hekke open reeds om 16:00, waarna kinders van 17:00 tot 19:00 hul gesigte kan laat verf en aan kunsvlytaktiwiteite kan deelneem. Vir die ouer kinders is daar ook vaardigheidsaktiwiteite. Gaste word aangemoedig om die omgewing en die simboliekgelaaide beeldhouwerk te verken – ’n gratis begeleide toer vind om 18:00 plaas. Kersvader maak sy opwagting om 19:30 om geskenke uit te deel, dus moet ouers hul kinders se duidelik gemerkte geskenke teen 18:30 in sy Kerskous in die besoekersentrum afgee.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of ’n piekniekmandjie by die Suikerkan via 082 216 2510 of 082 856 1871 of per e-pos na info@diesuikerkan.co.za te bestel. Die bistro sal ook verversings by die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ’n flits. Genoeg veilige parkering is beskikbaar. Die geleentheid sal tot 22:00 duur. Toegang kos slegs R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioentrekkers en kinders. Dit is gratis vir kinders onder ses jaar, jaarpermithouers en Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en bespreking is nie nodig.

Kontak Stefanie Rasztabiga by 021 863 0543 of per e-pos by kommunikasie@taalmuseum.co.za.

Die volgende volmaanpieknieks is op 26 Januarie, 23 Februarie en 22 Maart.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article