The Compassionate Friends (TCF) se jaarlikse Kersaansteek-geselligheid vind Sondag 10 Desember om 17:00 in die Wellington-stadsaal plaas.
TCF is ’n interkerklike steungroep, met lede wat wedersydse steun bied aan ouers wat ’n kind aan die dood afgestaan het.
Die dood en verlies van ’n kind word gereeld as die pynlikste tragedie bestempel.
Alle bedroefde ouers en ander familielede verloor in so ’n dood ’n deel van hulself.
Die kern van TCF is juis om ’n netwerk te skep vir bedroefde ouers en familielede om saam hierdie pad te stap wat hulle glo niemand anders sal kan verstaan nie.
Alle ouers en familielede wat ’n kind aan die dood afgestaan het, word genooi om nuwe bande te kom smee met diegene wat weet waardeur hulle gaan, en om die “drade” terug na die lewe op te tel, al is dit dalk rou en uitgerafel, of dalk selfs op die punt om te breek.
Hierdie internasionale Kerslig-seremonie bied ’n tyd om na te dink oor die verlies van ’n kind en om die liefde en die lewe te omhels.
Toegang tot die Kersligseremonie kos R80 per persoon en sluit ligte verversings in.
Alle gaste word gevra om ’n wit langsteelkers na die seremonie te bring. Bedroefde ouers, grootouers, broers en susters word gevra om ’n geraamde A4- of A5-grootte foto van hul gestorwe geliefde saam te bring.
. Kontak Mauleen Steenkamp by 061 841 5020 of per e-pos by wellingtontcf@gmail.com met navrae of om jou bywoning te bevestig.