Die plaaslike kafee The Gathering Café in New Orleans in Paarl-Oos is ’n lekker plek van samekoms waar geselligheid, kos en geloof soms mense bymekaar bring.
Die liefde vir kos het pastoor Bjorgan Morrie geïnspireer en aangepor om The Gathering Café te begin toe die geleentheid hom voorgedoen het. Nou is die einste kafee bekend vir sy liplek-lekker roosterkoeke, koffie, trots Suid-Afrikaanse bredies en nóg meer. The Gathering Café behoort aan die kerk met dieselfde naam, The Gathering Wholeness Centre, en is in Orleanslaan geleë.
Die kafee se deure is in die middel van die koronaviruspandemie geopen, maar moes weer vinnig gesluit word toe een van die vele koronavirusvlae uitgebreek het.
Bjorgan se dogter Bronwynne Morrie, wat ook die kafeebestuurder is, vertel hulle het toe weer die geleentheid aangegryp en besluit om hul deure vroeg in Februarie weer oop te maak.
“Deur die pandemie was kerke gesluit en ons moes iets doen sodat meer inkomste vir die kerk kon inkom. My pa was nog altyd so geïnteresseerd in die restaurantbesigheid en is baie lief vir kos. Deur die pandemie het hy die program In die Sop gekyk en toe besluit hy hoekom begin ons nie ’n kafee nie. Ons het die oop ruimte gehad en ons wou ook vir mense werk skep.
“Die kafee is toe begin met wat ons by die kerk gehad het, soos die tafels. Ons het maar hier en daar goedjies gekoop wat ons gesien het ons nodig het. Aan die begin van hierdie jaar het ons weer oopgemaak en toe kontak In die Sop ons en sê hulle wil ons graag help. Ons het die papiere ingevul, en toe ons ons weer kom kry, kom hulle met al hul equipment hier aan en kom doen ’n revamp.”
Bjorgan vertel dat die gebou wat die kafee tans huisves, oorspronklik as die kerk se pastorie gebou is. Hy is een van die stigterspredikante en dien ook tans as die hoofpredikant.
“Die kafee is in ons pastorie. Die pastorie is nooit voorheen bewoon nie. Ons het dit voorheen as ’n kleuterskool gebruik. Toe ons groot kerk klaar gebou is, het die kleuterskool na die saalgedeelte getrek en die pastorie het toe heeltemal leeg gestaan.
“Ons het toe die idee gekry om ’n kafee te open.”
Bronwynne sê sy en haar pa was geskok, maar tog opgewonde, toe hulle die oproep van die kykNet-program ontvang. In die Sop is ’n televisieprogram wat daarop fokus om restaurante te help transformeer en in die proses meer voete na die onderneming te lok.
“Ek was baie geskok, want hoekom kies hulle ons? Ons was toe omtrent net drie of vier maande weer op die been.
“Ons het nie eintlik experience in die bedryf nie en ons is deel van ’n kerk. Boonop is ons in ’n woongebied.
“It was almost like random dat hulle ons gekies het, maar ek dink met die hele agtergrondstorie van waar ons werk wil skep vir mense wat nie vaardighede het nie, is iets wat die program geïnisieer het.
“Nadat ons die oproep van die program se mense ontvang het, het ons net gesê “it’s like just living by faith” en die Here se genade is so groot vir ons dat die geleentheid na ons toe gekom het sonder dat ons dit enigsins verwag het.”
Tydens die verfilming van die program en die opknapping van die kafee was Bronwynne die enigste een wat die transformasie kon aanskou. Vir Bjorgan was dit alles ’n verrassing. Hy sê die kafee is binne die bestek van drie dae in ’n “volwaardige kafee” omgeskep en sluit pragtige decor in met ’n bobaas-kombuis wat aan die vereistes van die gesondheidsinspekteurs voldoen.
Buiten dat die kerk werk vir ander deur die kafee wou skep, het hulle dit ook in gedagte gehad om ’n ruimte te skep waar mense saam kan kuier.
Bjorgan voeg by: “Ons ontvang ook baie sakemense wat gebruik maak van die kafee om met hul kliënte te vergader, want in die Paarl-Oos is daar nie eintlik sulke geriewe nie. Hulle moet maar ’n bietjie ver ry as hulle na so kafee toe wil gaan. Ons is hier vir die gemeenskap. Ons het ’n kuieratmosfeer geskep en baie van die mense kom net om te kuier en te ontspan.”
Volgens Bronwynne is hul roosterkoeke ’n wenner en sit hulle dit elke dag voor. Sy vertel ook mense is gaande oor hul ontbyt en hulle kom selfs laatmiddae om ontbyt te eet. Hulle het ook onlangs ’n somerspyskaart bekend gestel en die goeie nuus is dat alles onder R100 kos.
Die ruimte is baie rustig, kalm en verwelkomend. Dit is sowaar ’n versteekte juweel, soos wat baie mense dit sal bestempel. The Gathering Café het ook ’n raadsaal vir sowat 10 mense wat mense gratis kan gebruik. In ruil verwag die kafee net dat mense ten minste ’n koffie koop. Die raadsaal moet natuurlik vooraf bespreek word. Die kafee kan ook vir partytjies bespreek word.
The Gathering Café is nou van Maandae tot Saterdae oop.
- The local The Gathering Café in New Orleans, Paarl East, is a warm place of gathering where food and sometimes faith bring people together.


