Ons sit in ’n klein kerkie in Rusthof. Die buitekant van die kerk is in ? verweerde pienk geverf met die woorde “Revival Mission” voor op die gebou. Heel bo staan “Holy Spirit”. Die Holy is in blou en die Spirit is in swart geskryf. Heel onder staan “Vrede en Herlewing najaag” en onder “Holy Spirit” is ’n wit kruis met ’n duif op.

Ek stap die kerkie in, maar die gebou is donker binne; ’n swart laken hang? voor die een venster. Dis om die ergste van die somer se hitte in die dag uit te hou. Binne sit tien mense. Almal is van Itemba Circle of Hope,?’n organisasie wat? ’n groot verskil maak in baie mense se lewe in die Helderberg. Dis? ’n organisasie wat dwelm- en alkohol-verslaafdes ’n? tweede kans gee en hulle help om hul lewe weer nut gee.

Agter in die hoek sit ’n swartman. Sy naam is Josef, maar hy maak homself klein. Hy kruip weg.

Hy sê niks.

Ek praat met die voorsitter van die organisasie, en ná ons onderhoud wink sy Josef nader. Hy kom aangestrompel, so asof sy voete nie die stapwerk wil doen nie. Sy oë kyk af en sy gesig het diep merke. Dis van al die jare se lag, huil en als tussendeur. “Ek is Josef,” sê hy en steek sy hand na my toe uit, maar hy kyk steeds af grond toe.

Ek tree nader en vat sy groot hand. Ek kan voel die hand is hard – dis van jare se harde werk, dink ek by myself.

“Josef was ’n alkoholis. Maar hy het nou sy lewe oor begin,” sê Susan, die voorsitter.

Josef vertel dat sy huis afgebrand het. Hy het als in daardie brand verloor.

“Die brand het als gevat, maar dit het my eintlik ’n nuwe kans gegee,” sê Josef.

Op die ouderdom van 64 gebruik hy nou sy hande – hy doen houtwerk en hy werk in die tuin en hy geniet dit baie.

“Ons het met ’n tuin begin. Ons het groente en kruie geplant. Die ou dinge trek my nie meer aan nie. Ek is nou ’n? vry man.”

Hy kyk af na sy hande en vryf hulle oor mekaar.

Hy kyk my in die oë voordat hy verder praat – asof hy voel hy kan my nou vertrou en met my praat.

“Meneer, die mense het my ’n? kans gegee. Sonder hulle sou ek nou in die straat gewees het. Ek sou nou sonder hoop gesit het, maar nou sit ek hier met hoop,” voeg hy by.

Josef groet my en verdwyn weer agter die groep mense in.

“Hy hou nie van die kollig nie. Hy hou van werk en hy hou van besig bly. Ons gee hom nou takies om hom besig te hou – takies om hom weg te hou van die kwaad af,” sê Susan.

Ná die onderhoud groet ek almal en ek kyk rond, maar ek sien Josef nêrens nie.

Ek ry met Brewery-straat af terug kantoor toe; ek ry stadig langs die kerkie en ek sien ’n? klein heining en agter die heining is ’n? tuin. In die tuin sit Josef en hy glimlag en waai.

Josef lyk op sy gelukkigste in die kerk se tuin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article