Die Swarts-gesin het al hul besittings in die brand verloor.


’n Jong ma van Groenheuwel in Paarl-Oos het die afgelope naweek ’n wrede dood gesterf toe sy na bewering deur haar kêrel aan die brand gesteek is.

Die slagoffer het nog gelewe met die nooddienste se aankoms, maar die 29-jarige Suzanne Swarts het later in die hospitaal aan haar wonde beswyk.

Die voorval het in die slaapkamer van ’n huis in Fosterstraat, Groenheuwel, plaasgevind.

Volgens ’n anonieme bron was Suzanne en haar kêrel nog die Saterdagmiddag saam voordat hy haar glo aan die brand gesteek het.

“Hulle het die middag gestry, toe het die outjie glo gesê hy gaan haar uitbrand. Een van die bure het gesê toe Suzanne in die ambulans klim, toe sê sy voor almal “nou kan julle sien hy het my toe nou uitgebrand – hy het mos gesê hy gaan my uitbrand”. Dit was haar laaste woorde, toe word sy in die ambulans gelaai.”

Suzanne, haar kêrel en hul tweejarige seuntjie was in haar slaapkamer toe die brand in dieselfde vertrek ontstaan het. Meteens het sy met ’n matras in haar hande uit haar kamer gehardloop en om hulp geskree.

“Suzanne het uit haar kamer gehardloop en toe het haar hare al klaar in haar gesig vasgebrand en sy kom met die matras nog aan. Dis toe dat haar broer en haar ma na die matras gegryp het en haar klere wou uittrek terwyl hulle haar probeer help het. Maar dit het nie gehelp. Hulle het ernstige brandwonde aan hul hande opgedoen.”

Buiten dat Sarah en Quinton Swarts, Suzanne se ma en broer, ernstige wonde opgedoen het, het haar seuntjie ook in die voorval seergekry. Die tweejarige het brandwonde aan sy bene opgedoen. Die seuntjie is die kind van die oorledene en die vermeende verdagte.

“Hul huis het ook heeltemal afgebrand. In die afgelope vyf jaar is dit die derde keer dat ’n brand by die woning uitbreek. Hulle het alles verloor en hulle kon niks red nie. Die brandweer sê die huis moet gesloop word, want dit is onveilig vir hulle om weer daarin terug te trek of dit reg te maak. As gevolg van die derde brand is die mure heeltemal bros, so dit kan nie gebruik word om weer in te bly nie.”

Suzanne laat nog twee minderjarige kinders agter buiten haar tweejarige seuntjie.

Raadslid Soudah Ross het Sondag die familie besoek om hulle te ondersteun en medelye te betoon.

Kapt. Anthony Sauls, polisiewoordvoerder vir Paarl-Oos, het bevestig die polisie het ’n moorddossier geopen. ’n Verdagte is ook in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by die ontstaan van die brand.

Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het bevestig hulle het ’n oproep ontvang het oor die brand in Forsterstraat. Esau voeg by die brandweer het nóg twee brandvoorvalle bygewoon.

  • A young mother from Groenheuwel in Paarl East died a brutal death this past weekend when she was allegedly set on fire by her boyfriend.

You need to be Logged In to leave a comment.