Aanhangers van gewilde TV-dramas soos Arendsvlei, Suidooster en 7de Laan kan uitsien na e.tv. se heel eerste plaaslik vervaardigde Afrikaanse telenovelle, Kelders van Geheime, wat van 6 Mei af op weeksdae om 18:00 uitgesaai word.
Dié drama speel af – en is geskiet – in die hartjie van die wynlande op die Plaisir-wynlandgoed, wat gedoop is as “Soebatskloof”, naby Simondium buite die Paarl.
Bekende gesigte is in die telenovelle te sien, soos Vinette Ebrahim, bekend vir haar rol as Charmaine in 7de Laan, Cedwyn Joel, wat die rol van Oom AB Samsodien in Suidooster vertolk het en ook Veronique Jephtas, ’n boorling van die Paarl.
Karin Meiring, die voormalige kykNET-produksiehoof wat nou verbonde is aan die produksiemaatskappy KFilms, het verlede week tydens die mediabekendstelling van die telenovelle gesê hulle is dankbaar dat e.tv. ’n “kans gevat het” met die produksie.
“Ons hou van inhoud met ’n doel. Hierdie is nie vir ons net nog ’n produksie nie. Hierdie is vir ons nog ’n belewenis, nog ’n geleentheid.“Ons het nie eens in ons wildste drome gedink hierdie voorstel sou aanvaar word nie. Op daardie noot – ons wil e.tv. dankie sê dat julle vons die geleentheid gee om geleenthede te skep,” het Meiring gesê.
Vuyelwa Booi, eMedia se hoof van plaaslike inhoud en die uitvoerende vervaardiger van die drama, het op verlede week se geleentheid gesê Kelders van Geheime het ’n spesiale plek in haar hart.
“Hierdie is baie emosioneel en persoonlik vir my. Ek is al 23 jaar in hierdie bedryf. My eerste rol was dié van Alice in 7de Laan. Sy was hierdie mal klein meisie wat haar dingetjies gedoen het.
“Dit is ’n absolute voorreg om 23 jaar later te kan terugploeg in die gemeenskap wat my TV-loopbaan moontlik gemaak het. Dit is my geskenk terug aan die bedryf, die Afrikaanse gehoor en die mense wat met my ’n kans gevat het.”
Veronique Jephtas vertolk die rol Debbie-Lee.
Jephtas het die vermaaklikheidsbedryf in 2019 betree en haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns in 2022 verwerf.
“Debbie-Lee is die assistent-kok in Kelders van Geheime – maar sy is eintlik die bobaaskok. Sy is ook nie op haar mond geval nie. Daar is baie skerp lyne.
“Aan die mense van die Paarl wil ek net baie dankie sê vir al die ondersteuning en liefde. Ek dink hulle gaan die reeks baie geniet. Dit is stories vir ons mense en ek dink hulle sal kan aanklank vind met my karakter,” het sy aan Paarl Post gesê.
Die drama fokus op drie families – die Abrahams- en die Syster- en Marais-huishoudings.Hierdie families moet saamstaan, saamstem en bowenal saamwerk om hul brood en botter – en ’n glas wyn – te verdien, het Sarie vroeër berig.