Die Boland-Kavaliers se heelagter, Darian Hock, ontduik sy teenstaanders in een van sy kraglopies teen Namibië.Foto: Zandréa Strauss / Namibia Rugby Media


Die Sanlam Boland Kavaliers het Saterdag (22 Februarie) te veel skietgoed vir die Welwitchias gehad en dié span van Namibië in die Hage Geingob-stadion in Windhoek getroef.

Die Kavas het agt drieë in ’n wegholsege van 54-24 gedruk, met die speler van die wedstryd, Sidney Tobias,wat ’n driekuns behaal het.

Die Windhoek-rugbyunie het besluit dat geen toeskouers toegelaat sou word nie.

Die span van Wellington het reeds vroeg in die eerste helfte sy stempel afgedruk toe die skrumskakel, Godlen Masimla, in die derde minuut van die wedstryd vir een van sy twee drieë oorgeduik het. Tobias se eerste drie het ná ’n goed uitgevoerde rolmaalbeweging deur die Kavas-voorspelers gevolg.

Die hoofafrigter, Hawies Fourie, sal egter moet werk aan al die hanteerfoute wat veroorsaak het dat verskeie agterlynbewegings skipbreuk gely het.

Andrew Beerwinkel (nr. 1-stut) het die veld in die 17de minuut van die eerste helfte met ’n kniebesering verlaat en is met die plaasvervanger Lamla Nunu (nr. 17) vervang.

Die Welwitchias kon eers in die 20ste minuut van die eerste helfte sy eerste punte met ’n verdoelde drie aanteken.

Met rustyd was die Kavaliers met 26-12 in beheer.

Fourie het aan die begin van die tweede helfte heelwat veranderings aan sy span aangebring. Die Kavas het onmiddellik van rat verwissel en met meer intensiteit gespeel.

Dit was die Kavas se laaste opwarmingswedstryd voordat hulle op 8 Maart teen die Vrystaatse Cheetahs in ’n SA Bekerwedstryd by die Boland Rugbystadion in Wellington sal kragte meet. Die afrigter sal kopkrap oor wie die Kavaliers teen die Cheetahs gaan verteenwoordig. Met die ervare Springbok- en Bul-speler Cornal Hendricks, en die voormalige Stormers-skrumskakel, Godlen Masimla, wat terug in die Bolandkamp is, sal Hawies moet raakvat met sy spankeuses. Hendricks, wat saam met Xavier Mitchell as senterpaar in die middelveld gekombineer het, gaan met Jurick Lewis en Luthathi Nxele, wat op vleuel diens gedoen het, meeding. Lewis het goeie lyne gehardloop toe hy Hendricks op binnesenter vervang het, terwyl Nxele en Lewis in die verlede goed as ’n senterpaar vir die Kavaliers gekombineer het.

Thurlow Marsh, die Kavas se kaptein, het ná die wedstryd erken dit was nie aangenaam om sonder toeskouers te speel nie. “Dit was ’n terugflits na die Covid-pandemie,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.