In ’n intense en spanningsvolle eindstryd teen ’n vasberade Oostelike Provinsie (OP) Kings het die Boland Kavaliers sy Eersteliga-titel Saterdag suksesvol verdedig. Die wedstryd is in ekstra tyd beslis, met die gasheerspan, die Kavaliers, wat as die wenners aangewys is, alhoewel die telling met 27 elk gelykop was.
Die titel is aan die Kavaliers (Kavas) toegeken omdat dié span meer drieë in die eindstryd aangeteken het.
Aan die einde van die gewone 80 minute was die telling gelykop, met 20 elk. Dit was 20 minute later steeds die geval met 27 elk. Omdat Boland vyf drieë in vergelyking met OP se vier aangeteken het, beteken dit Boland is as die kampioen gekroon.
Die wenspan het boonop die seisoen onoorwonne afgesluit.
OP verdien gewis erkenning vir sy deursettingsvermoë. Dié span het nooit opgegee nie. Dit was slegs die vasberade verdediging deur die gasheerspan wat hom aan die einde van die stryd die titel verseker het.
Die toestande was uiters sleg. Dit was nat en winderig en die veld was baie modderig. Dit het beteken dat albei spanne baie foute gemaak het, terwyl die druk van ’n eindstryd en moegheid aan die einde ook tot onnodige foute gelei het.
Thurlow Marsh, die kaptein van die Sanlam-Boland-Kavaliers, en sy span het alles in die stryd gewerp om uiteindelik die beker omhoog te kon hou, nadat hulle meer drieë (vyf) teenoor die span van Gqeberha (vier) gedruk het.
Die wedstryd het heeltyd wipplank gery. Die Bolanders kon teen rustyd met ’n voorsprong van 15-10 kleedkamer toe draf.
OP Kings het ná rustyd die voortou met 17-15 geneem, nadat die Boland-heelagter, Domenic Smith, nie die bal kon beheer nie.
Die Kavas was onder groot druk en het met ’n drie afgerond om weer die voortou te neem.
Daarna het die OP Kings nog ’n strafskop oorgeklits om die telling weer gelyk te maak.
Met amptelike speeltyd verstreke was die wedstryd gelykop, met 20 elk, wat tot ekstra tyd van 20 minute gelei het, met twee helftes van 10 minute elk aan die onderskeie kante.
Kort ná die aanbreek van ekstra tyd het die Bolander Taine-Randall Booysen gaan druk om sy span weer te laat voorloop. Sy drie is deur Ashlon Davids verdoel (27-20).
OP Kings het egter weer die tuisskare na hul asem laat snak, met ’n verdoelde drie wat die wedstryd gelykop (27-27)laat eindig het.
Dit is die tweede keer dat die Kavas die Eerste Liga met Thurlow Marsh as kaptein wen.
Die Sanlam- Boland Kavaliers se fokus verskuif nou na die SA Beker-reeks, wat vroeg in 2025 afskop.
Die eerste vier spanne boaan dié reeks se puntelys sal volgende seisoen vir die Curriebeker se Premierliga kwalifiseer.
Sanlam Boland Kavaliers-puntemakers:
. Drieë: Cornell Engelbrecht, Dayan van der Westhuizen, Neil Ruitenbach (2), Taine-Randall Booysen. Doelskoppe: Ashlon Davids.


