Die Sanlam-Boland-Kavaliers is nou die enigste onoorwonne span in die Curriebeker- eerste divisie ná nog ’n opwindende ronde se aksie Saterdag.
Die Kavaliers het ’n oorwinning van 48-31 oor die Oostelike Provinsie by die Wolfson-stadion behaal, wat aan hulle ’n tweede bonuspunt-oorwinning in hul Curriebeker-veldtog gegee het.
Boland het die Olifante in ’n vermaaklike wedstryd in Gqeberha met sewe drieë teenoor twee uitgestof en teen halftyd ’n voorsprong van 29-7 gehad voordat hulle ’n gemaklike wegwedstryd in die tweede helfte afgerond het.
Die spoedvrate Duren Hoffman en Neil Rautenbach het elk twee drieë vir die span van Wellington aangeteken, terwyl die losskakel, Ashlon Davids, met vyf doelskoppe en ’n strafdoel ’n stewige 13 punte bydra het.
Die Oostelike Provinsie het in die tweede helfte baie beter gevaar en vier keer gedruk, maar die agterstand was ná die eerste helfte te groot, aangesien Boland ook ’n paar drieë in die tweede helfte bygevoeg het.
Die linkervleuel, Rodney Damons, het ’n dubbelslag vir die span van die Oostelike Provinsie aangeteken, terwyl die heelagter, Jayden Bantom, ’n doelskop by Damons se drieë gevoeg het.