Die Boland-Kavaliers het Saterdag gewys waartoe die span in staat is toe hy die SWD-Arende met 35-5 in ’n SA Bekerreeks-wedstryd op Outeniquapark in George ’n loesing gegee het.

Dié span van die Boland het behoorlik gewys dat hy ’n span is waarmee hierdie seisoen rekening gehou moet word.

In die vaste skrums het die voorrymanne, Andrew Beerwinkel en Dayan van der Westhuizen, met groot vasberadenheid geskrum en die Arende was gereeld kwaai op die agtervoet.

Die Kavaliers het ook in die lynstane goed meegeding, terwyl die Arende in dié afdeling van die spel maar erg drooggemaak het.

Keenan Opperman, die Kavaliers se groot flank, was aan die spits van baie van sy span se aanvalle. Opperman is moeilik gestuit en het twee drieë gaan druk.

Die Arende het sy enigste punte reg aan die einde van die eerste helfte gekry.

Die Kavaliers was op die aanval, maar het ’n fout gemaak en die bal het by die Arende se linkervleuel, Mpho Ntsane, uitgekom en hy het byna van sy eie doellyn af deurgehardloop vir ’n drie.

  • . Puntemakers: Cornell Engelbrecht, Keenan Opperman (2), Riaan Louw, Sidney Tobias. Doelskoppe: Garth April (2). Strafdoele: April (2). SWD-Arende 5 (5): Drie: Mpho Ntsane.

You need to be Logged In to leave a comment.