Die 2017-Boland Kavaliers saam met die president van die Boland-rugbyunie, Ivan Pekeur, voor in die middel. Foto: Christiaan du Plessis


Die Boland-Kavaliers, ’n slapende reus in Suid-Afrikaanse rugby, het vanjaar verlore aansien herwin deur vir die uitspeelronde van die Curriebeker (eerste divisie) te kwalifiseer.

Dit was dié span se eerste verskyning in ’n halfeindstryd sedert 2011 nadat hy destyds die eerste divisie gewen het.

Die Kavaliers sal dus oor ’n bevredigende seisoen terugkyk, maar ook besef dat dit ’n seisoen van verspeelde geleenthede was.

Terwyl die uitslag van die Curriebekerkompetisie hoop en vertroue in die Kavaliers herstel het, het dié span vroeër vanjaar gemengde welslae in die Supersport-rugbyreeks behaal.

Die Kavaliers was in die meeste van sy wedstryde mededingend en het twee spogseges oor die SWD-Arende behaal wat as hoogtepunte onthou sal word. Die span se karakter wat hy in al twee wedstryde teen die Westelike Provinsie ten toon gestel het, was ’n aanduiding dat ander spanne moet rekening hou met die 2017-span van die Kavaliers.

Die Kavaliers het vanjaar twee keer teen die WP amper vir ’n opskudding gesorg, maar kon telkens nie die spreekwoordelike uitklophou plant nie.

WP het uiteindelik genoeg staal getoon om as die kampioene in die Supersport-rugbyreeks gekroon te word.

Die Kavaliers het sy Eersteligaveldtog in die Curriebekerkompetisie goed afgeskop en die Oostelike Provinsie in ’n indrukwekkende wegoorwinning met 27-40 getroef. Wedstryde teen die Luiperds (verloor 26-47), Grens (wen 3-42), Griffons (verloor 25-40), Valke (verloor 35-31), SWD (wen 48-20) en Welwitschias (wen 26-25) het voor die halfeindronde in Welkom, waar die Kavaliers en die Griffons mekaar die stryd aangesê het, gevolg.

Die Kavaliers het weer teen die uiteindelike kompetisie-wenners te staan gekom waar hulle die Griffons tot in die laaste paar minute teen die toue gehad het. Dié oorwinning was uiteindelik ook nie vir die besoekende Kavaliers beskore nie en die Griffons het met ’n oorwinning van 32-21 na die eindronde deurgedring (waar die span die Luiperds met 60-36 verniel het).

Buiten die vertonings wat tussen die vier lyne deur die Kavaliers opgelewer is, is ’n aantal persoonlike prestasies ook vanjaar behaal. Die haker, Clemen Lewis, en die agtsteman, Zandré Jordaan, het onderskeidelik in hul 150ste en 100ste wedstryd vir die Kavaliers uitgedraf – toevallig op dieselfde dag, 17 Junie, teen SWD op Malmesbury.

Lewis het later in die seisoen teen die Griffons op die Boland-stadion in Wellington die speler geword wat die meeste wedstryde (154) nóg vir die Kavaliers gespeel het toe hy Neil Papier se 153 wedstryde verbygesteek het.

Die vleuel Charles Mayeza was met agt drieë die Kavaliers se voorste driedrukker in die Curriebekerkompetisie en tweede van al die spanne (Jeandré Rudolph van die Luiperds was die voorste driedrukker met 12 drieë).

Die opgang van die flank Ludio Williams was nóg ’n hoogtepunt. Williams, wat in 2016 nog klubrugby vir Saldanhabaai aan die Weskus gespeel het, is as klubspeler in die Kavaliers se oefengroep ingesluit.

Williams het dié geleentheid vanjaar met albei hande aangegryp en sodoende in die meeste van die Kavaliers se wedstryde as eerstekeuse-toekantflank diens gedoen.

Williams is by die Kavaliers se prysuitdelingseremonie as die spelers se speler van die jaar aangewys, terwyl die stut Clinton Therons as die Speler van die Jaar vir 2017 aangewys is.

Clemen Lewis en Edwin Sass het onderskeidelik die prys vir voorspeler- en agterspeler van die jaar ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.