Die Boland-Kavaliers het sy plek in die kwarteindronde van die SuperSportreeks bespreek met ’n 20-12 sege oor die OP-Olifante in Despatch.
Die rustydtelling was 10-0 in die guns van die Kavaliers.
Die uitslag van dié maak-of-breek- kragmeting wat by die WJ de Wet-stadion plaasgevind het, was bepalend wat betref die Kavaliers se lot in die kompetisie. Boland móés die wedstryd beklink om tot die uitspeelrondes van die kompetisie te vorder.
Die span se rotsvaste verdediging was ’n duidelike aanduiding van sy doelgerigtheid om dié titel te wen.
Die Kavaliers kon daarin slaag om die tuisspan vir 76 minute sonder enige punte te beperk met die Olifante wat laat in die wedstryd vir die eerste keer deur die Kavaliers se verdediging kon breek.
Die Kavaliers het sy punterekening in die negende minuut van die wedstryd geopen, met ’n strafdoel deur die losskakel Elgar Watts. Kort hierna het Boland sy voorsprong verder gerek tot 10 punte danksy ’n drie deur die woelige loskopstut Arnout Malherbe. Watts het die drie verdoel. Kort ná rustyd het die losvoorspeler Ludio Williams Boland se tweede drie aangeteken, met Watts weereens in die kol met die doelskop.
Verspeelde kanse en ’n gebrek aan afronding het die Kavaliers verhoed om verdere drieë tot sy telling te voeg, maar ’n tweede strafdoel deur Watts in die 67ste minuut het die Kavaliers gerieflik met 20 punte laat voorloop.
Die Olifante het laat in die wedstryd twee drieë aangeteken, met OP se flank Brendon Brown en die haker Mbeko Kota wat albei agter die doellyn gaan kuier het. Simon Bolze was suksesvol met een doelskop.
Puntemakers:
Oostelike Provinsie – drieë: Brendon Brown en Mbeko Kota. Doelskop: Simon Bolze.
Boland-Kavaliers – drieë: Arnout Malherbe en Ludio Williams, Doelskoppe: Elgar Watts (2). Strafdoel: Watts.
. Die Boland-Kavaliers durf Saterdag 30 Junie die Griekwas in Kimberley aan in een van vier kwarteindrondekragmetings in die SuperSport-reeks.