Die Sanlam-Boland-Kavaliers het Saterdag (20 Julie) in ’n Eersteliga-Curriebeker-halfeindstryd in Wellington ’n naelbytsege van 25-24 oor die SWD Arende behaal.
Die naelskraapse oorwinning op ’n nat en modderige Boland-stadion het dié span ’n plek in die eindstryd besorg.
Boland is die verdedigende kampioen van die Eerste Liga en sal nou na hierdie oorwinning op Saterdag 27 Julie, teen die EP Kings in die eindstryd gewikkel wees op Boland-stadion.
Die SWD-span het eerste bloed geruik toe sy losskakel vroeg in die wedstryd met ’n strafskop suksesvol was. Boland het onmiddellik met ’n drie deur sy nr. 4-slot, Michael Benade, geantwoord. Dit is verdoel deur Ashlon Davids. Met 17 minute speeltyd oor in die eerste helfte het Davids met ’n verdoelde drie vir die Kavaliers afgerond.
Die manne van George het egter teruggeslaan – ’n goeie breekslag in die middelveld het tot ’n verdoelde drie gelei.
Davids was weer suksesvol met twee strafskoppe, wat Boland die voortou laat neem het, met 18-17 met die aanbreek van rustyd.
’n Blatante fout deur Boland in die begin van die tweede helfte het SWD met 24-18 die voortou laat neem. Die Arende het groot druk op die Kavaliers geplaas, met lang skoppe wat die span van Wellington in sy eie gebied vasgepen het.
Hawies Fourie, hoofafrigter van die Kavaliers, se span kon nie in die tweede helfte afrond nie – tot in die 72ste minuut van die wedstryd toe die losskakel van SWD met ’n geelkaart afgestuur is. Boland se voorspelers het ’n rolmaal-beweging van stapel gestuur, met die plaasvervangerhaker, Emile Booysen, wat oorgeduik het vir die wendrie – weer verdoel deur Ashlon Davids.
Fourie het ná die wedstryd krediet aan die SWD-span gegee. Hy sê hulle het in die toestande baie goed gespeel en ook baie druk op die Kavaliers geplaas.
Sy span het gesukkel by die afbreekpunte en die lynstane was nie altyd na wense nie. Hierdie is van die fasette van die spel waaraan hulle voor die eindstryd aandag gaan skenk, sê Fourie.
. Sanlam-Boland-puntemakers:
Drieë: Michael Benade, Ashlon Davids, Emile Booysen. Doelskoppe: Ashlon Davids (2), Strafdoele: Davids (2).