Karoo2Coast vir HAM

Wellingtonner JC Muller neem eersdaags deel aan die Karoo 2 Coast veldwedren wat op Sondag 18 September plaasvind, en hy het Huis Andrew Murray (HAM) gekies as ’n begunstigde.


Wellingtonner JC Muller neem eersdaags deel aan die Karoo 2 Coast veldwedren wat op Sondag 18 September plaasvind, en hy het Huis Andrew Murray (HAM) gekies as ’n begunstigde.

Die Karoo 2 Coast is ’n 100 km-veldren van Uniondale na Knysna via die Prins Alfredpas. Dis ’n skilderagtige, maar uitdagende roete en fietsryers word aangemoedig om goed voor te berei vir die reis.

JC het sewe jaar gelede begin fietsry omdat hy op daardie stadium onaktief en oorgewig was. Hy het ’n sport gesoek wat nie te veeleisend is nie en ’n kollega het hom omgepraat om saam met hom te begin bergfiets ry.

Baie kilometers en baie minder kilogramme later geniet hy dit nog steeds baie. Hy het intussen ook begin padfiets ry, maar geniet sy bergfiets nog die meeste omdat dit hom neem na stil paaie in die natuur waar hy nader aan sy Skepper is en tyd kry om met Hom te praat en kop skoon te maak – hy ry omtrent altyd alleen.

Danksy geseënde gesondheid het hy intussen deelgeneem aan verskeie veeleisende wedrenne soos die Cape Argus, die “To Hell and back” (120 km – na Gamkaskloof in twee dae), die Tip Trans (115 km) in die Cederberg en die Karoo 2 Coast (100 km).

Hy het intussen ingeskryf vir sy derde Karoo 2 Coast waarmee hy graag geld wil insamel vir HAM wat hom na aan die hart lê.

Om vir JC te ondersteun om sy 100 km fietsry-wedren te voltooi, word ondersteuners aangemoedig om ’n donasie per kilometer te skenk aan HAM kinderhuis.

Huis Andrew Murray se bankbesonderhede is ABSA Wellington, takkode: 632005, tjekrekening: 430560107, verwysingsnommer: JC Muller.

Vir meer inligting, skakel Karen Petersen by 021 873 3834 of info@andrewmurray.org.za

  • Huis Andrew Murray-kinderhuis is ’n Badisa-program vanuit ’n Christelike lewensbeskouing en sorg daagliks vir 150 sorgbehoewende kinders wat óf wees gelaat is óf deur die kinderhof uit ouerlike sorg verwyder is. Om ten volle in die kinders se emosionele, fisieke, intellektuele en geestelike behoeftes te voorsien, is hul genoodsaak om hulp vanuit die gemeenskap te versoek.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.