Miané Eksteen (links, 12), sensei JP van Heerden (29) en Sebastian Sonnekus (regs, 13) pronk met hul sewe medaljes na afloop van die World Union of Karate Do Federations se karate-wêreld­kampioenskap in Mexiko.


Die karatekas Miané Eksteen (12) en Sebastian Sonnekus (13) het saam met hul afrigter, sensei JP van Heerden (29), skoonskip gemaak by vanjaar se 2024- World Union of Karate Do Federations (WUKF) karate-wêreldkampioenskap in Mexiko en altesaam sewe medaljes verower.

Dié drie vegters, wat verbonde is aan JP se Boland Dragons-karateskool in Wellington en die Paarl, het van 11 tot 14 Julie in Monterrey, Mexiko, meegeding.

Beide leerders is van Wellington, waar Miané in gr. 7 aan die Laerskool Hugo Rust is, terwyl Sebastian tuisonderrig ontvang. Sebastian is Stefan Sonnekus, wat as die fotograaf, kameraman en redigeerder van die Voetspore-televisiereeks optree, se seun.

Sebastian het twee goue medaljes verower – vir kata en roterende kumite as deel van ’n drienasies-span saam met Frankryk en Peru – asook ’n silwermedalje vir individuele kumite en ’n bronsmedalje vir kobudu.

Miané het ’n bronsmedalje vir kobudo gewen en JP ’n silwermedalje vir kata, asook ’n bronsmedalje vir kobudo.

Volgens Elizna Sonnekus, Sebastian se ma, was dit ’n “ongelooflike” ervaring om na Mexiko te reis en wêreldklas-karate in aksie te sien.

“Dit [die kampioenskap] het dieselfde struktuur gehad as waaraan ons [Suid-Afrika] gewoond is, maar alles was net maal 10.”

“Dit was 10 keer meer bedrywig, 10 keer meer opwindend en 10 keer meer raserig,” vertel sy, en voeg grapperig by dat die Mexikane en Brasiliane ’n “besige klomp” is.

Die gereelde geldinsamelings wat die drie karate-vegters gehou het, kon alleenlik hul vliegtuigkaartjies dek, terwyl alles anders uit hul eie sak moes kom.

Volgens Elizna sou dit moeilik gewees het om die lang pad na Mexiko sonder dié finansiële hulp aan te durf.

“Hulle [Miané, Sebastian en JP] is regtig gevier. Almal [in Suid-Afrika] het aanlyn gekyk [tydens hul gevegte],” vertel Elizna.

Volgens haar hoop sy ook dat dié drie karatekas se harde werk die jongspan sal aanmoedig om net so gedissiplineerd te wees en as gevolg daarvan ook eendag ’n wêreldkampioenskap sal aanskou.

Die Boland Dragons-karateskool nooi ondernemings wat wil hande vat, uit om betrokke te raak by die skool se bedrywighede en sodoende blootstelling aan hul onderskeie ondernemings te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.