Francois du Plessis, ’n karate-instrukteur wat al langer as 30 jaar karate by skole in die Paarl, Stellenbosch, Strand en in die noordelike voorstede afrig, het pas sy gesogte 7de rang (dan)-swartgordel verwerf. Die eksamen is onder die werêldhoof van Goju-Kai, saiko shihan Goshi Yamaguchi, asook hanshi Peter Brandon, Afrika-hoof en die wêreld-adjunkhoof, gedoen.
Du Plessis het as laerskoolseun in Worcester aan karate begin deelneem. Hy het sy swartgordel in graad 11 verwerf en in sy matriekjaar die eerste keer Japan toe gereis, waar hy as die junior wêreldkampioen gekroon is.
Ná skool het hy hom as maatskaplike werker aan die Hugenote Kollege in Wellington bekwaam en ook by die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit studeer. Hierna het hy by Korrektiewe Dienste aangesluit en hy is sedert 1992 ’n voltydse karate-instrukteur.
Meer as 20 000 jong karatekas het oor die afgelope drie dekades by Du Plessis en sy span afrigting ontvang.
Du Plessis en van sy studente reis gereeld na Japan vir verdere opleiding. Talle van sy studente het ook swartgordels verwerf. Sy karateskole het ook al verskeie Suid Afrikaanse en wêreldkampioene opgelewer.
Du Plessis glo dat sukses van jouself afhang en uit verskeie komponente bestaan, soos byvoorbeeld ouerlike insette, ondersteuning, geleenthede, deursettingsvermoë, harde werk en ’n houding van “ek kan”.
Du Plessis self het die uitkyk van “opgee is nooit nie ’n opsie nie”.
In sy karateloopbaan was daar al vele teleurstellings en hoogtepunte. Hy sê die teleurstellings maak jou net sterker. Hy sê ook dat ’n mens baie keer in die lewe voel jy wil opgee, maar as jy daaraan toegee, sal sukses net ’n gedagte bly.
Du Plessis oefen daagliks en glo ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.
Vir hom is die doel van sy betrokkenheid by skole om ’n verskil te maak – nie net om karatekas met swartgordels op te lewer nie, maar ook om kinders met respek, dissipline en integriteit toe te rus. Volgens hom bestaan ’n suksesvolle mens uit verskeie komponente en moet ’n mens altyd daarna streef om net jou beste moontlik te wees.
Du Plessis en sy span berei tans voor vir die wêreldkampioenskap wat in 2025 in Japan plaasvind.
Hy sê dankie aan al die mense, skole en vriende wat deur die jare in hom geglo het en bedank hulle vir hul volgehoue ondersteuning.