Selfs ‘n besering wat hy sowat ‘n week gelede aan sy ribbekas opgedoen het, sal nie die 84-jarige Jannie Malherbe keer om vanjaar sy 52ste agtereenvolgende Bergrivier-kanomarathon te voltooi nie.
Malherbe is tans die oudste deelnemer aan die kanomarathon wat vanjaar vir die 63ste keer van 2 tot 5 Julie plaasvind. Dit begin in die Paarl en eindig 240 km verder in Velddrif aan die Weskus.
“Buiten my ribbekas-besering is my hakskeen ook nou al vir ‘n geruime tyd seer. Ek het juis my ribbes beseer as gevolg van hierdie hakskeen wat my laat val het. Maar ek loop feitlik nie meer mank nie en ek is hoopvol dat my ribbes teen volgende week herstel sal wees. Ek sal deur niks afgeskrik word nie,” het ‘n vrolike Malherbe vandeesweek gesê.
Op die vraag oor waar iemand op 84-jarige ouderdom nog energie kry vir so ‘n uitdagende aktiwiteit, sê Malherbe eenvoudig: “ek is redelik hardekop”.
“Ek is nie iemand wat kan stilsit nie. Die verwagting is mos dat iemand van my ouderdom op die stoep moet sit en kyk hoe die son sak. Nie ek nie. My oggende begin al hier teen 06:30 en [ek] probeer myself heeldag met iets besig hou,” vertel Malherbe.
“Ek begin jaarliks al hier vroeg in Januarie tot aan die einde van Junie vir hierdie ding oefen. Dan is daar ook die hengel waarmee ek myself gereeld besig hou . . . Ek was my hele lewe lank nog aktief.”
Wat die Bergrivier-kanomarathon uniek maak, is dat dit oor ‘n paar dae plaasvind. “Dit vat geweldig baie uit jou uit.”
Malherbe sê selfs al word daar koue en nat toestande vir volgende week voorspel, sal dit bydra tot die avontuurlustig heid van die marathon. Hy onthou hoe hy en ander deelnemers verlede jaar maagvirusse opgedoen het, vermoedelik weens die besoedelde water van die Bergrivier. “Dit is maar soos enige ander uitdaging.”
Die geleentheid word beskryf as die uiterste toets van vaardigheid in kanovaart en verdien sy plek as een van Suid-Afrika se belangrikste roei-uitdagings.
Deelnemers sal vanjaar van die begin tot einde beproef word.
• Lees meer oor die aanloop tot die gewilde jaarlikse wedvaart op bl.20.