Kankeroorwinnaars wat in Wellington woon, is Woensdag 27 Junie ter viering van internasionale Kankeroorwinnaarsdag met tee en koek bederf.


Die Kankervereniging van Suid-Afrika het Internasionale Kankeroorwinnaarsdag op die eerste Sondag in Junie saam met die res van die wêreld gevier.

Hoewel Kansa kankeroorwinnaars regdeur die jaar ondersteun, is hierdie dag ’n spesiale dag en geleentheid om kankerpasiënte te erken, hetsy kanker pas by die pasiënte gediagnoseer is, hulle behandeling ondergaan of hulle in remissie is. Die moed en vasberadenheid wat dit verg om teen kanker te baklei, is op dié dag erken.

“Kankeroorwinnaars moet tree vir tree op hul reis met kanker ondersteun word,” het Naomi Philander, hoof en maatskaplike werker van Kansa se dienslewering­s­afde­ling, gesê.

“Hulle moet bemoedig word om nie die stryd teen kanker gewonne te gee nie. Aanvanklik moet hulle die skok van die diagnose verwerk en dit met hul geliefdes deel.

“Hulle moet ook die kort- en langtermyn-newe-effekte van hul behandeling leer baasraak.

“Dit is ’n geleentheid om mense met hoop te inspireer dat kanker wel oorwin kan word en om kankeroorwinnaars te herinner dat hulle nooit alleen is nie.”

Kanker het ’n uitwerking op alle aspekte van die kankeroorwinnaar se lewe. Dit sluit sosiale en interaktiewe verhoudings en persepsies in, asook die pasiënt se rol in die werksplek. Boonop moet die kankeroorwinnaar finansiële uitdagings oorkom.

Die kollektiewe ondervinding kan by tye soms baie moeilik wees.

Kansa Boland-sorgsentrum het in Junie sy Kankeroorwinnaarsdag in Saron, Paarl en Wellington gehou en wil graag die Rolbalklub van Paarl en Wellington asook “67 Minute Blankets for Mandela” bedank vir hul bydrae wat van hierdie dae so ’n groot sukses gemaak het.

You need to be Logged In to leave a comment.