Soms kan een mens ’n groot verskil maak.
Edna Pick, leraarsvrou van emeritus-leraar ds. Samual Pick, eertyds verbonde aan die Verenigende Gereformeerde Kerk, is reeds die afgelope sewe jaar stilletjies besig om so ’n verskil te maak in die lewe van mense by wie kanker gediagnoseer is.
Pick vertel trots: “Ek het voor- heen alleen na kankerpasiënte uitgereik. Hierdie jaar het daar nog weldoeners betrokke geraak om verskeie vroue van Wellington wat kanker oorleef het vir een dag soos koninklikes te behandel.”
Die sowat nege vroue wat in verskillende stadia van kanker is en sommige reeds kanker oorleef het, was Donderdagoggend 5 Oktober in styl vir ’n deftige ontbyt aan huis van Edna en Sam vervoer. Hier is hulle met ’n tuisgemaakte handsakkie en ook met geskenkies en geestelike leesstof bederf.
Aan tafel het verskeie van die vroue emosioneel hul lewensverhaal vertel waaruit daar gewis hoop en geloof te put is. “Wanneer jy deur ’n storm loop, hou jou kop hoog en moenie bang wees vir die donker nie,” het Jurgens Jacobs die vroue toegesing waarna hulle “ontvoer” is na ’n spoggerige wynlandgoed buite die Paarl vir ’n koninklike middagete.
Gerty Smit, by wie klierkanker verlede jaar gediagnoseer is en wat binne ses maande wonderbaarlik herstel het, het Pick en haar man geloof vir hierdie bederf.
Pick wil ook die weldoeners bedank wat haar ondersteun in haar visie om ’n verskil in net een mense se lewe te maak.