Dit is die vooraand van die 2023-Rugbywêreldbeker (RWB) wat Vrydag (8 September) in Parys, Frankryk, afskop en almal hou asem op om te sien of die Springbokke weer die wa deur die drif gaan trek. Die afgetrede redakteur en sportjoernalis Fritz Joubert, wat die legendariese eerste Springbok-RWB-toer as joernalis saam met die Bokke meegemaak het, skryf oor daardie wonderlike 1995-toernooi.
Die afwagting loop hoog onder rugbyondersteuners wêreldwyd in die aanloop tot vanjaar se Wêreldbekertoernooi, wat Vrydag in die Franse hoofstad, Parys, afskop.
In Suid-Afrika is die verwagtinge groot – die Springbokke moet mos die beker verdedig wat hulle vier jaar gelede in Japan gewen het. Maar maklik gaan dit nie wees nie – daarvoor staan die All Blacks, soos gewoonlik, die Iere, die Skotte en seker nog ’n span of twee in hul pad.
Met die Springbokke se veldtog op hande is dit onvermydelik dat Suid-Afrikaners se gedagtes teruggevoer sal word na 1995, die jaar waarin Suid-Afrika die eerste keer aan die toernooi deelgeneem en dit toe sommer met die intrapslag gewen het.
Die huidige geslag Springbokke sal hoegenaamd nie bewus wees van die drama wat hom destyds in daardie toernooi afgespeel het nie. Sewe lede van vanjaar se span was nog nie eens gebore toe Francois Pienaar die Webb Ellis-trofee 28 jaar gelede op 24 Junie gelig het nie.
In hierdie groepie is die 20-jarige Canan Moodie van die Paarl die jongste.
Terloops, seuns wat in die Drakenstein-vallei skoolgegaan het, het ’n sterk verteenwoordiging in die span. Behalwe Moodie (Boland Landbou), was Kurt-Lee Arendse (Paulus Joubert), Grant Williams (Gimnasium), Frans Malherbe (HJS) en Vincent Koch (Hugenote) ook hier op skool. Hou maar in gedagte dat Handré Pollard (Gimnasium), wat beseer is, dalk nog sy opwagting in die toernooi kan maak.
Nog voor die afskop van die 1995-toernooi was daar reeds ’n verrassing deurdat Tiaan Strauss, die destydse kookwater-agtsteman en WP-kaptein, nie vir die span gekies is nie. Die Springbokafrigter, Kitch Christie, wou hom liewers op sy Transvaalse spelers verlaat.
Dit het aanleiding gegee tot bespiegeling onder rugbymense dat Christie nie twee sterk leiers, naamlik Pienaar en Strauss, in dieselfde span wou hê nie.
Hoe dit ook al sy, Christie se span het die rugbywêreld geskok deur in die openingswedstryd met Australië – in daardie stadium die houer van die trofee – af te reken. ’n Hoogtepunt was die skitterende drie wat Pieter Hendriks (vleuel) gedruk het.
Maar Hendriks se deelname aan die toernooi was van korte duur aangesien hy en James Dalton geskors is weens onbehoorlike spel gedurende die onaangename wedstryd teen Kanada, wat die Springbokke 20-0 gewen het.
Dit het egter die weg gebaan vir Chester Williams om sy plek in die span in te neem. En het hy dit nie gevier nie. Dié Paarliet het in die kwarteindstryd teen Wes-Samoa die eerste Springbok geword wat vier drieë in dieselfde wedstryd gedruk het.
Williams was die enigste gekleurde in die span wat die beker in 1995 gewen het – ’n situasie wat hom sedertdien nie herhaal het nie. Bruin en swart spelers is nou omtrent net so volop as wit spelers in die Springbokspan.
Daardie wedstryd teen Wes-Samoa het ’n paar ongevalle opgelewer weens die aggressiewe en soms ontoelaatbare manier waarop die eilandbewoners verdedig het. Een van die ongevalle was die heelagter André Joubert, wat ’n beentjie in sy hand gebreek het.
Joubert was een van die staatmakers in die tuisspan en dit was ondenkbaar dat die Springbokke die Franse in die halfeindstryd in Durban sonder hom sou moes aandurf. Planne is omtrent gemaak om Joubert gereed te kry. Onder meer is ’n spesiale handskoen van oorsee ingevlieg sodat die staatmaker-heelagter daarmee kon speel (in Ierland gebruik spelers dit in die sport “hurling”).
In die halfeindstryd het dit behoorlik broekskeur met die Bokke gegaan. Swaar reën het Kingspark in ’n modderbad omgeskep. Dit het soveel gereën dat die afskop met ’n uur uitgestel is.
Die Springbokke het vroeg voorgeloop danksy ’n drie deur Ruben Kruger. Daarna het die een strafskop na die ander in gietende reën gevolg, met die gevolg dat die Franse op die hakke van die Bokke gebly het. Vier minute voor die einde was die Bokke 19-15 voor terwyl die Franse verwoed na wenpunte gesoek het. In ’n stadium het die voorspeler Abdel Benazzi saam met ’n bondel Franse na die doellyn geduik, maar die skeidsregter wou nie die drie toeken nie.
Uiteindelik het die eindfluitjie geblaas – Suid-Afrika was deur na die eindstryd.
Hoewel die Springbokke gesukkel het, het die All Blacks Engeland in die ander halfeindstryd met 45-29 kafgedraf.
Die supervleuel Jonah Lomu, met vier drieë, was die ster wat die Engelse soos vrot velle van hom afgeskud het.
Ná hierdie vertoning was die All Blacks verreweg die gunstelinge om die beker te wen. Hul oorheersing van die toernooi spreek uit die feit dat hulle tot in daardie stadium 315 punte teenoor net 104 van hul teenstanders opgestapel het. Hierteenoor was die Bokke se puntetelling maar 129 teenoor 55.
Hoewel statistiek veelseggend kan wees, beteken dit nie noodwendig dat dit ’n deurslaggewende faktor in ’n groot wedstryd gaan wees nie. Dit is sulke tye dat veggees, kameraadskap en soms ook ’n bietjie geluk bepalend kan wees.
Dit was hoe dit in daardie eindstryd op 24 Junie 1995 was. Die Springbokke – aangevuur deur byna 60 000 toeskouers – het besluit die All Blacks, en veral Lomu, sal nie deur hul verdediging breek nie. Dít, tesame met die skopskoen van Joel Stransky, het die moed van die All Blacks gebreek.
Drie strafdoele deur die Springbok-losskakel en twee deur sy Nieu-Seelandse teenstander, Andrew Mehrtens, het die rustydtelling op 9-6 te staan gebring.
Mehrtens het ’n skepdoel in die tweede helfte behaal en met die telbord op 9-9 ná 80 minute moes ekstra tyd van 10 minute aan elke kant gespeel word.
Mehrtens het die reeds gespanne skare benoud gemaak deur die eerste punte met ’n strafdoel te behaal (12-9 Nieu-Seeland). Maar kort voor die einde van die eerste 10 minute se ekstra tyd was Stransky in die kol met sy vierde strafdoel (12-12).
Nou was dit vir albei spanne tyd om diep te delf in die reserwes van hul energietenke.
Die twee spanne het om die beurt aangeval en verdedig totdat ’n skrum aan die Bokke in die All Blacks se helfte toegeken is. Só moeg was die manne dat Os du Randt (stut) en sy All Black-teenstander ooreengekom het hulle gaan mekaar nie druk nie, maar net die skrum regop hou.
Die Springbokke het die bal gehaak, Stransky het teruggeval tot in die spreekwoordelike kassie, die lang aangee van Joost van der Westhuizen ontvang en ’n sierlike skepdoel deur die pale gejaag – eindtelling 15-12.
Dit was tot op daardie tydstip een van die grootste oomblikke in SA se sportgeskiedenis. Pres. Nelson Mandela het bygedra tot die euforie van die skare deur in ’n Springboktrui met nommer 6 op die rug – die nommer van die Springbokkaptein Francois Pienaar – op die veld te verskyn.
Twaalf jaar het verloop voordat die Bokke in 2007 weer die beker gewen het, gevolg deur nog ’n oorwinning in 2019.
Nou is die vraag of hulle vanjaar die eerste keer die span gaan word wat die Wêreldbeker ’n vierde keer omhoog kan hou.
• Fritz Joubert is ’n afgetrede redakteur en sportjoernalis van die Paarl, wat die legendariese eerste Springbok RWB-toer in 1995 as joernalis saam met die Bokke meegemaak het.