Die Wellingtonse gemeenskaps- polisiëringsforum (GPF) het ‘n veiligheidsprojek deur die Drakenstein-munisipaliteit verwelkom wat die installering van kringtelevisie- kameras in brandpunte oor die munisipaliteit heen behels.
Volgens die GPF sal die kameras nie net as ‘n afskrikmiddel vir misdadigers dien nie, maar dit sal ook die wetstoepassingsagentskappe help met die insameling van bewysstukke om misdade op te los.
“Dit is ‘n belegging in veiligheid. Ons inwoners kan sommer dadelik veiliger in hierdie areas voel. Die GPF en die breër gemeenskap is baie dankbaar vir hierdie kameras,” het Jarque Jacobs, die Wellington-GPF-voorsitter, vandeesweek gesê.
Wellington is een van die eerste dorpe wat sulke kameras ontvang het. Dit sal ook eersdaags in brandpunte in ander munisipale uitgerol word, het Eda Barnard, uitvoerende direkteur vir openbare veiligheid, by navraag gesê.
Volgens Barnard vorm die kameras deel van Drakenstein-munisipaliteit se omvattende veiligheidsplan om hoërisiko-misdaadgebiede, sentrale sakegebiede, sleutelgeboue en munisipale infrastruktuur te beskerm.
“Die hoofdoel van die kameras is om misdaadvoorkoming te ondersteun en dit vorm deel van ons Drakenstein Slim Veiligheidsnetwerk (DSVN)-inisiatief, wat gebruik maak van gevorderde
tegnologie om misdaad te bekamp en sterk op samewerking tussen ‘n netwerk van veiligheidsvennote steun,” verduidelik Barnard.
Volgens haar sluit die vennote die munisipaliteit se wetstoepassings-, verkeers-, brand- en reddingsdienste in.
Die polisie, buurt- en plaaswagte, GPF’s en private veiligheidsfirmas is ook aan boord.
“Die munisipaliteit het reeds kringtelevisiekameras in verskillende areas in Drakenstein geïnstalleer en begroot elke jaar om soveel moontlik kameras te installeer.
“Nie net in wyk 10 in Wellington nie, maar in alle wyke, van Saron in die noorde tot Simondium in die suide.
“Die bedrag wat begroot word, verskil van jaar tot jaar.”
Die kameras word 24 uur per dag deur ons DSVN-beheerkamer in die Paarl gemonitor, wat onlangs opgradeer is en beman word deur amptenare van die munisipaliteit se openbare veiligheidsafdeling.”
Jacobs sê die projek is in verskeie opsigte ‘n aanwins vir die Wellingtonse gemeenskap.
“Die onlangse voorval waarby ‘n petroljoggie by ‘n petrolstasie in die dorp aangerand is, het vir ons gewys watter belangrike rol sulke kameras in die vasvang van bewyse vervul.
“Hierdie gebied in wyk 10 val onder die sektor 2-polisiëringsgebied en dit is inderdaad ‘n brandpunt vir misdaad, soos tereg uitgewys deur die munisipaliteit.
“Ons glo dat hierdie kameras misdadigers sal afskrik. Ons glo ook dat dit as ‘n verdere veiligheidsmeganisme en moniteringstelsel vir die nabygeleë sakeondernemings sal dien.”