Misdadigers het Maandagaand (10 Oktober) oorhoofse kraglyne tydens beurtkrag gesteel en inwoners van ’n groot gedeelte van die Sonstraal-pad vir meer as 15 uur lank verlam.
Nadat die elektrisiteit weer teen omstreeks 22:00 moes aangaan, is gevind dat ongeveer 160 m oorhoofse elektriese kabels langs die Sonstraal-pad gesteel is.
Die munisipaliteit se reaksie-eenheid en elektrisiteitspan is onmiddellik na die gebied en het gevind dat diewe ongeveer 160 meter kabels langs die Sonstraal-pad gesteel het.
Die kragtoevoer is eers Dinsdagmiddag herstel.
Verlede jaar het die Drakenstein-munisipaliteit ’n kabeldiefstal-taakspan in die lewe geroep. Die taakspan werk saam met verskeie veiligheidsvennote, onder andere die polisie, om dié euwel hok te slaan.
Volgens die munisipaliteit het die taakspan se werksaamhede reeds verskeie suksesse opgelewer.
“Misdadigers is in hegtenis geneem en swaar strawwe is opgelê en verwelkom,” het Marius Wüst, die munisipaliteit se direkteur van ingenieursdienste, gesê.
“Gedurende September 2021 was daar 14 voorvalle van kabeldiefstal, terwyl daar vyf voorvalle in September 2022 aangemeld is. Gedurende Oktober 2021 was daar 24 voorvalle, terwyl tot op hede twee voorvalle in Oktober 2022 aangemeld is. In vergelyking met verlede jaar se statistieke kan daar duidelik gesien word dat daar ’n afname van meer as 35% in voorvalle is.
“Die taakspan se werksaamhede gaan onverpoos voort om te bou op dié suksesse. Intussen word verskeie skrootwerwe besoek, en installeer die munisipaliteit aluminium (wat ’n laer herverkoopwaarde het) pleks van koper waar moontlik.”
Maar volgens die Drakenstein-plaaswag (DFW) is Wüst se berekeninge heeltemal onwaar aangesien die DFW weekliks kabeldiefstal aanmeld.
Daan van Leeuwen Boomkamp, bevelvoerder van die DFW, het gesê dit was eintlik plaaswaglede wat Maandagaand se kabeldiefstal ontdek en aangemeld het. Daar is eers Maandagoggend aan die probleem van die herstel van die krag gewerk.
“Buiten talle kwesbare mense wat in die gebied woon wat vir hul persoonlike veiligheid nie kan bekostig om sonder krag te wees nie, is hier boerderye en besighede wat staatmaak op krag om ’n lewe te maak. Dit is erg genoeg dat ons daagliks beurtkrag in die gesig staar, maar dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie dadelik optree as kabels wat noodsaaklike dienste lewer, gesteel word nie.”. Die munisipaliteit moedig inwoners weer aan om enige verdagte aktiwiteite by die Drakenstein Smart Safety Network (DSSN) Beheerkamer by 021 807 8508 (alle ure – 24/7) of by die polisie aan te meld vir optrede.
Die munisipaliteit bied ’n beloning van R5 000 aan vir enigeen wat inligting verskaf wat lei tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van verdagtes wat betrokke is by die diefstal van munisipale infrastruktuur en kabels, of tot die konfiskering van gesteelde munisipale eiendom.



