’n Tien maande oue beleë gouda, wat Lactalis Suid-Afrika spesiaal vir Woolworths maak, is verlede Donderdag (25 April) op die Suid-Afrikaanse Suiwel-toekenningsgeleentheid by Eensgezind, buite Durbanville, as Suiwelproduk van die Jaar aangewys. Die wenkaas, Woolworths 10 Months Mature Gouda, het sowat 1 000 inskrywings uitgestof.
’n Rekordgetal van 1 029 suiwelprodukte van 78 produsente, insluitend 12 eerstekeer-deelnemers, het vanjaar om die aandag van 82 beoordelaars van 52 maatskappye meegeding. Altesame 110 produkte is as SA kampioene aangewys, wat as wenners in elke kampioenskapsklas uitgestaan het. Dertig produkte is bekroon met die gesogte Qualité-merk, die enigste merk van uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.
Graham Sutherland, die hoofbeoordelaar en ’n suiwelkenner, sê dit is elke suiwelprodusent se droom om ‘n produk te hê wat as Produk van die Jaar in ’n kompetisie soos hierdie aangewys word. “Die Woolworths 10 Months Mature Gouda het mettertyd ’n nalatenskap vir uitsonderlike gehalte gevestig. Wat dit so uniek maak, is die kombinasie van smaak en tekstuur, wat ’n geurige en bevredigende proe-ervaring lewer. Die produsent het al die nodige maatreëls ingestel om die gehalte van hierdie kaas tot die hoogste standaard te waarborg, en die bevoegdheid van die kaasmaker is besonders. Met hierdie produk het hulle ’n uiters kragtige wenformule gevind.”
Herman Janse van Rensburg, hoofbestuurder van Lactalis Suid-Afrika, sê sy span is verheug oor die toekenning van die 2024- Produk van die Jaar-eerbewys. “Ons is opgewonde dat ons span hierdie top-suiweltoekenning vir ’n ongelooflike sesde keer in die afgelope agt jaar gewen het. Dit is ’n besondere prestasie. Dankie aan al ons toegewyde spanne wat ongelooflik hard werk en altyd daarna streef om die hoë gehaltestandaarde te handhaaf wat ons verbruikers van ons as ’n maatskappy verwag. Dankie ook aan Agri-Expo vir die geleentheid om Suid-Afrika se suiwelkundigheid ten toon te stel.”
Die SA Suiwelkampioenskap, die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika, is vanjaar die 191ste keer aangebied.
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, wat die kompetisie sedert 1834 organiseer, sê die kampioenskap gee erkenning aan die diversiteit en groot verskeidenheid produkte wat die bedryf produseer en beklemtoon ook die beduidende bydrae wat die suiwelsektor tot die Suid-Afrikaanse ekonomie lewer.
“Baie geluk aan Fairview, wat ses Qualité-toekennings gewen het; Fair Cape Dairies wat vyf gewen het; Belnori Boutique Cheesery wat vier gewen het; Lactalis Suid-Afrika wat drie gewen het; Fairfield, Lancewood en Polar Ice Cream Company wat elk twee gewen het; sowel as al die ander wenners.”
Vir meer inligting oor die pryswenners in die verskillende kategorieë besoek https://cheesesa.co.za/