Speurders in die Kaapse Wynland-polisiëringsdistrik is onlangs vereer vir hul toewyding in hul ondersoeke wat tot swaar vonnisopleggings van misdadigers gelei het.
Gen.maj. Luyanda Damoyi, die Kaapse Wynland-distrikskommissaris, het sertifikate oorhandig aan die speurders en erkenning gegee aan hul harde werk en die verskil wat hulle in hul gemeenskappe maak.
Die speurders is van verskeie polisiekantore in die Kaapse Wynland-distrik en hul suksesse sluit vonnisopleggings in van verskeie sake wat by verskillende howe in die distrik verhoor is. Die oorhandiging het by die Paarl-Oos-polisiekantoor tydens die distrik se misdaadbekampingsforum- vergadering plaasgevind.
Damoyi het die speurders geloof vir hul goeie werk en bevelvoerders gevra om hul beamptes aan te moedig om uitstekende resultate na te streef wanneer hulle hul werk doen.
“Ons is trots om die speurders te erken vir die bydraes tot die speurdienste in die Kaapse Wynland-distrik deur hul onvermoeide pogings en toewyding tot uitnemendheid. Hierdie speurders het deurgaans uitstaande ondersoekvaardighede getoon en het merkwaardige resultate in ingewikkelde en uitdagende sake behaal.”
Damoyi het ook verskeie sake uitgelig waar speurders hulle goed van hul taak gekwyt het.
In Paarl-Oos is ’n verdagte aangekla vir poging tot moord en ’n vonnis van 25 jaar opgelê, waarvan vyf jaar opgeskort is vir vyf jaar. In ’n afsonderlike saak is ’n verdagte aangekla vir moord en huisroof. Hy is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord en het 15 jaar tronkstraf gekry vir die huisrooftog.
Die Worcester-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) is geloof vir hul ondersoeke in vier afsonderlike sake. Dit sluit in 25 jaar tronkstraf vir verkragting, 25 jaar tronkstraf vir moord en lewenslange tronkstraf vir verkragting. Dié GKS-eenheid het ook die saak van ’n seksuele oortreder ondersoek wat aangekla is weens die verkragting van drie minderjarige kinders tussen nege en 10 jaar oud. Die verdagte is 60 jaar tronkstraf vir sy gruwelike dade opgelê.
Die GKS in Ceres het ook ’n saak ondersoek van ’n verdagte wat aangekla is vir verkragting, ontvoering en roof. Hy is 40 jaar tronk toe gestuur. In ’n afsonderlike saak is die oortreder 18 jaar tronkstraf opgelê vir verkragting en drie jaar vir ontvoering.
Damoyi het aangedui dat die sake tussen 2012 en 2023 aangemeld is en onlangs in verskeie howe in die Kaapse Wynland-distrik afgehandel is.