Die volgende en laaste registrasienaweek vir kiesers voor vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesings sal die naweek van 3 en 4 Februarie landwyd gehou word, het die Verkiesingskommissie (OVK) bekend gemaak.
Die OVK het gister in ’n verklaring gesê die land se 23 296 registrasiepunte sal op albei dae van 08:00 tot 17:00 oop wees om nuwe kiesers in staat te stel om te registreer en vir bestaande kiesers om hul besonderhede na te gaan.
Volgens die OVK sal Suid-Afrikaners oorsee op 26, 27 en 28 Januarie by Suid-Afrika se 120 hoëkommissariate, ambassades en konsulate kan registreer.
Die OVK sê benewens stemgeregtigdes in Suid-Afrika wat reeds aanlyn kan registreer, kan kiesers in die buiteland nou ook aanlyn registreer op die webblad https://online.elections.org.za/voterportal.
“Die aanlyn portaal vir registrasie bly beskikbaar tot en met die datum van proklamasie van die verkiesings vir diegene wat vir die eerste keer registreer om te stem en vir diegene wat reeds geregistreer het om die besonderhede van hul registrasie op te dateer,” lui die verklaring.
Die OVK se kontaksentrum bly luidens die verklaring operasioneel om burgers met navrae en inligting oor die registrasie te help, sowel as oor inligting in verband met die ligging van registrasiepunte.
Die sentrum kan op weekdae tussen 08:00 en 17:00 by die nommer 0800 011 8000 bereik word.
Geregistreerde kiesers kan die OVK se webtuiste besoek om hul besonderhede na te gaan of om uit te vind waar hul registrasiepunt geleë is.
Paarl se departement van binnelandse sake sal die naweek oop wees, slegs vir die afhaal van ID’s en tydelike ID-aansoeke. Hul tye sal Saterdag en Sondag van 08:00-17:00 wees.


