Nalatenskap van Real Housewives of the Winelands

Engels hou van die meervoud en dit blyk duidelik uit Engelse plekname waar Engels die meervoud verkies en Afrikaans die enkelvoud.

So ken ons almal Newlands teenoor Nuweland, Victoria Waterfalls teenoor Victoria Waterval en Union Buildings teen Uniegebou om maar net ’n paar te noem. Gelukkig torring niemand aan die eg Afrikaanse Boland, Swartland en Namakwaland nie.

Dit wil egter lyk of die blywende nalatenskap van Real Housewives of the Winelands die onafrikaanse gebruik van Wynlande is. Ek sien iemand het dit ook op Wikipedia as “Die Real Housewives van die Wynlande” vertaal.

Dit is nie toevallig dat daar ’n munisipaliteit geregistreer is as die Kaapse Wynlanddistriksmunisipaliteit (KWDM) nie. Die Wynland of Kaapse Wynland is ’n gebied wat uit verskeie wynstreke bestaan, en Wynland kan derhalwe nie ’n meervoud hê nie. Daar is net een Wynland. Die feit dat dit in Engels Winelands is, verander nie die feitelike situasie nie. Dit sou dus korrek wees om te sê: “Hewige storms het die Boland en die Wynland met volle krag getref. Dorpe soos die Paarl, Stellenbosch en Franschhoek het swaar reën ervaar.” En nie: “Hewige storms het die Boland en die omliggende Wynlande met volle krag getref”. Dorpe soos Paarl, Stellenbosch en Franschhoek het swaar reën ervaar.” nie. (Paarl Post, 7 Nov. 2024, 7).

Ons kan slegs van wynlande (met ’n kleinletter -w) praat wanneer ons na lande verwys waar daar wyn geproduseer word: Suid-Afrika staan reeds lank nie terug vir Europese wynlande soos Frankryk, Spanje, Portugal en Duitsland nie.

Die beginsel by die Paarl is dieselfde as by die Strand. Paarl is eintlik ’n vervorming van die Nederlands parel (Afrikaans: pêrel). Paarl (uit parel) sowel as Strand was oorspronklik soortname (gewone selfstandige naamwoorde) en nie plekname nie. Parel (pêrel) en strand het onderskeidelik verwys na die edelsteen wat rondom ’n sandkorrel in ’n skulp gevorm word en die sanderige strook waarop die see se branders uitspoel. Saam met soortname (gewone selfstandige naamwoorde) gebruik jy in Afrikaans altyd ’n lidwoord, nl. die of ’n. Daarom praat ons steeds van die Strand en die Paarl (uitgespreek as pêrel). Albei is soortname wat ook as plekname of eiename gebruik word.


Willem Botha,

Wellington

You need to be Logged In to leave a comment.