Die nuwe junior stadsraad van Wellington is Machonett Pietersen, Mija Zeeman, Fenecia Smith, Suné Kuhn en Cari Groenewald. Agter is Leandro Lovember, Arlene Erasmus en Griffon Slammet.


Die nuwe junior stadsraad (JSR) van Wellington is onlangs by die Hoërskool Bergrivier by ’n spoggeleentheid ingehuldig.

Die verkose lede sal vir die res van 2020 en in 2021 in die raad dien. Hulle verteenwoor­dig al die hoërskole in Wellington.

Almal is deur die speaker van die JSR, Orrin de Vries, verwelkom en gelukgewens. Volgens De Vries het die JSR baie lesse in 2020 geleer.

“Die jaar het nie verloop soos wat ons gedink het dit sou nie en baie van ons planne en geleenthede moes gekanselleer word. Tog het ons saam gegroei, kon ons ’n alliansie met die junior stadsraad van die Paarl vorm en het ons sterker geraak. Ons het geleer om die potensiaal in onsself en in ander raak te sien en nooit moed op te gee nie,” het hy gesê.

De Vries het die JSR se geleentheid om op Paarl FM te praat, hul ontmoeting met die burgemeester, Conrad Poole, en sy burgemeesterskomitee, sowel as die leierskapseminaar wat hulle kon bywoon, as hoogtepunte beskryf.

Die nuutverkose junior burgemeester, Fenecia Smith van Hoërskool Bergrivier, het die nuwe raad in haar inhul­digingstoespraak sterkte toege­wens en hul doelwitte opgesom.

“Die junior stadsraad is ’n platform om ’n verskil te maak, terug te gee en uit te reik na die gemeenskap. Ons moet daarna streef om te dien, geleenthede te organiseer en projekte bekend te stel wat tot voordeel van ons gemeenskap, maar veral ons jeug, sal wees. Met wedersydse respek en spanwerk kan ons ’n verskil maak,” het sy gesê.

Nadat die nuwe raad voorge­stel is en hulle hul balkies ontvang het, het die voormalige junior burgemeester, Orrin de Vries, die ketting aan die nuwe junior burgemeester, Fenecia Smith, oorhandig. Die verrig­tinge is met ’n saamkuier-geleentheid afgesluit, waar die ou en nuwe lede van die JSR, ver­teen­woordigers van hul skole, hul ouers en verteen­woordigers van die gemeenskap gesellig kon verkeer.

You need to be Logged In to leave a comment.