Die uitkyk op die toekoms vir plaaslike jeug is baie positief, alhoewel hulle voel dat daar meer gehoor gegee moet word aan hul stemme.
Paarl Post het met ’n paar raadslede gesels van die Paarl en Wellington junior stadsraad en hulle was nie skaam om hul opinies te lig nie.
“Jeugdag is ’n dag wat die bydraes, sterk punte en potensiaal van jongmense regoor die wêreld en Suid-Afrika vier,” glo Dominic Uren.
Hy meen Jeugdag bied ’n geleentheid om die belangrikheid van die jeug in die vorming van die toekoms en die bevordering van hul betrokkenheid by sosiale, politieke en ekonomiese ontwikkeling te erken.
“Vir jongmense vandag kan Jeugdag ’n herinnering wees dat hulle ’n stem en die krag het om ’n verskil in hul gemeenskappe en die wêreld as geheel te maak. Vir ander jeuglede is dit ’n geestelike naweek by hulle kerke waar hulle meer leer oor die toekoms en wat dit vir ons as jeug in hou en wat ons werke vorentoe is. Jeugdag onthou ons ook oor ons geskiedenis en waardeur ons as jeug was om te kom waar ons vandag is. Alhoewel ons as jeug nie is waar ons wil wees nie, is ons ook nie waar ons was nie. Ons as jeug is geroep vir ’n tyd soos die. Jeugdag kan help om bewustheid te verhoog oor die belangrikheid daarvan om in die jeug te belê as agente van verandering en om ’n meer inklusiewe, regverdige en volhoubare toekoms vir almal te skep.”
Caira Nyman glo dat die voorouers van vandag se jongmense ’n lydende rol gespeel het om Suid-Afrika ’n beter land te maak. Dus bemoedig sy die jeug om hande te neem en aanhou te veg vir die positiewe groei van die land.
“Om sukses te behaal moet jy nooit met tweede beste tevrede wees nie so as ons jeug harder werk en na beter streef kan ons ’n blink toekoms vir ons self in Suid-Afrika bied.”
Die jeug van vandag het “’n stem wat skrik vir niks”, sê Jody Lackay, maar hy voel dat die jeug sukkel om hul stem te gebruik in sekere situasies.
“Dus voel dit vir ons as die jeug asof ons niks bydra tot die gemeenskap, maar as ons saam staan sal ons as jeug se stem sterker en harder word. Dus wil ek elke jongmens aanmoedig – moet nie bang wees om te wees wie jy regtig is nie. Om jou self te wees maak jouself sterker en gee meer hoop vir die jeug vir die toekoms.”
Elijah Van Schoor is vasbeslote dat jongmense vandag meer geleenthede het as die jonges vanuit vorige generasies. Dus glo hy dat jongmense tog menings en idees het oor ’n breë spektrum van kwessies wat almal raak.
“Ons gebruik sosiale media op ’n daaglikse basis, en ons het genoeg digitale hulpmiddels om platforms vir onsself te skep om ons idees en gevoelens oor sekere onderwerpe (politiek, sosiale kwessies, globale kwessies, ens.) uit te druk. Die jeug van vandag speel dus ’n aktiewe rol in die vorming van die toekoms. So ja, ek voel dat die jeug ’n stem het, ’n baie sterk een, maar as jongmense gebruik ons dit nie tot ons volle potensiaal nie.”