Jossie is maar net 100 jaar jonk

Jossie Goosen van Silwerkruin op Wellington, het gister op 26 April haar 100ste verjaardag gevier.


Jossie Goosen van Silwerkruin op Wellington, het gister op 26 April haar 100ste verjaardag gevier.

Sy was haar lewe lank ’n bekende inwoner van Wellington. As kind het sy by die destydse Hugenote Hoër Meisieskool skoolgegaan en later het sy daar skoolgehou. Daarna was sy vir 25 jaar die gewilde hoof van die Wellingtonse biblioteek.

As hoof van die biblioteek het Jossie ’n sleutelrol gespeel in die uitbou van die biblioteek en het sy gehelp om te verseker dat die Wellingtonse dorpsbiblioteek tot vandag toe steeds ’n belangrike bymekaarkomplek vir al die mense van Wellington is.

Sy was gelukkig getroud met Theunis Goosen en kon nog in 2014 saam met hom die herdenking van hul 70ste huweliksjaar vier voordat hy verlede jaar drie dae voor sy 100ste verjaardag, oorlede is.

Toe daar onlangs met die oog op Jossie se 100ste verjaardagviering ’n foto van haar geneem moes word, het sy gemaak-verbaas geskerts: “Honderd jaar? Dink julle regtig ek is al 100 jaar oud? Ek voel hoegenaamd nie só oud nie!”

Haar 100ste verjaardag is feestelik saam met haar kinders en die mense van Silwerkruin die oggend van 26 April by Silwerkruin gevier.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.