Die belangrikheid van padveiligheid was Donderdag 19 Oktober die fokuspunt toe die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement in samewerking met die Drakenstein-munisipaliteit ’n junior verkeersopleidingsentrum by Nederburg Primêr in die Paarl geopen het.
’n Groep gr. 3-leerders het deel uitgemaak van die bekendstelling wat bygewoon is deur Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Japie Cornelissen, Drakenstein se verkeershoof, asook plaaslike raadslede.
Die doel van die sentrum is om jong leerders in ’n speelomgewing oor padveiligheid te leer, sonder om hulle bloot te stel aan die gevare van werklike verkeersituasies, sê die departement. By die sentrum kan kinders oefen hoe om ’n pad veilig oor te steek, die verkeer as ’n fietsryer te navigeer of hoe om interaksie met voetgangers as ’n motoris te hê.
Myrtle Apollis, die skoolhoof, sê die skool is baie opgewonde oor die projek wat aan hulle toegestaan is.
“Veiligheid is ’n groot probleem vir ons kinders. As ons kinders nie speelparke het nie, speel hulle gewoonlik in die pad. Ek wil baie dankie sê vir alle rolspelers wat die projek moontlik gemaak het sodat ons leerders bevoeg kan wees ten opsigte van padreëls en padveiligheid, maar ook om opvoeders insig te gee in hoe ons te werke kan gaan om dit op ’n spelende manier vir die leerders aan te bied.”
Volgens Mackenzie is dié sentrum die 36ste juniorverkeersopleidingsentrum wat die mobiliteitsdepartement se padveiligheidsbestuurspan oor die Wes-Kaap heen begin het.
“Elkeen van hierdie opleidingsentrums is ’n bewys van ons toewyding tot padveiligheid en die vermindering van die aantal kinders wat op die paaie beseer word of sterf. Ek vertrou dat hierdie fasiliteit jong leerders in staat sal stel om kundiges in padveiligheid te word en hulle sal motiveer om hul gesinne en gemeenskappe op te voed oor hoe om uit te kyk vir al die ander mense wat die pad gebruik.”
Winde het op sy beurt gemaan dat kinders reeds vroeg in hul lewe opgevoed moet word oor hoe om verantwoordelik op die paaie op te tree.
“Deur bewusmaking te verhoog terwyl hulle jonk is, kan ons toekomstige generasies van verantwoordelike padgebruikers ontwikkel, en sodoende kan ons tragedies voorkom en verminder. Met hierdie junior verkeersopleidingsinisiatief maak ons padveiligheid herkenbaar, meesleurend en, nog belangriker, pret vir ons kinders. Daar is geen groter prioriteit as om kinders veilig te hou nie, hetsy by die skool, by die huis of op openbare plekke soos paaie. Ons belê baie hulpbronne om te verseker dat ons jeug inderdaad veilig is waar hulle ook al gaan. Ek hoop wat hulle leer kan selfs aan hul ouers, voogde en ander volwassenes oorgedra word.”
Avron Appollis, Drakenstein-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het ook die leerders teenwoordig toegespreek en sy dankbaarheid oor die projek gedeel. Hy sê die munisipaliteit wens om ’n veilige omgewing saam met wetstoepassers te skep.
“Ons wil ’n omgewing skep wat sosiale en ekonomiese ontwikkeling sal bevorder, maar lewensgehalte hang grotendeels af van die veiligheid van ons kinders. Dit is ons wens dat almal veilig sal wees, en voel, in openbare gebiede om enige probleme so vreedsaam moontlik op te los. Ons is vandag hier vir die bekendstelling van ’n opleidingsentrum wat die bogenoemde ’n werklikheid kan maak en die lewensgehalte van ons kinders sal verbeter.
“Baie dankie aan al die rolspelers wat hierdie projek moontlik gemaak het en ’n veilige omgewing vir ons gemeenskap help skep. Safety first in Drakenstein.”
. The importance of road safety was the focal point last Thursday (19 October) when the Western Cape mobility department, in collaboration with the Drakenstein municipality, opened a junior traffic training centre at Nederburg Primary in Paarl.