’n Jong man van Wellington wat eens op ’n tyd vasgevang was in dwelms het sy lewe in ’n nuwe rigting gestuur toe hy besluit om dié euwel agter hom te sit.

Rowelland Williams was net 12 jaar oud in 2007 toe hy begin eksperimenteer het met die dwelm tik. Vir jare het hy gesukkel om die dwelms te los totdat hy eendag uit die bloute net besluit het tot hier toe en nie verder nie.

Hy wou iets maak van sy lewe en het besluit om in 2020 sy hoërskoolloopbaan te voltooi deur die vlak 1 nasionale kwalifikasieraamwerk-eksamen te skryf wat gelykstaande is aan gr. 9.

Williams vertel dat hy die eksamen deur Abet (Adult Basic Education and Training) afgelê het. Hy het al sy uitslae gekry, maar wag nou al twee jaar vir sy Afrikaanse punt wat uitstaande is op sy verslag.

Die 27-jarige meen dit hou hom terug om sy matriek te voltooi en verder te gaan studeer.

“As ek net my uitslae kan kry, dan wil ek verder gaan om my matriek klaar te maak en studeer. Ek beoog om onderwys te doen, maar ek wil ook verder gaan in teologie, want dit is my hartklop.”

Navrae is aan Abet gestuur waarop hulle gereageer en gesê het dat Williams die organisasie in Wellington moet kontak, wat saam met Abet werk, waar hy die eksamens afgelê het. Alternatiewelik kan hy die departement van onderwys kontak om hom by te staan om sy uitstaande punt te kry.

Williams bemoedig verder ander jongmense om te probeer om iets van hul lewe te maak en nie in euwels soos drank en dwelms te verval nie.

“Die keuses wat ons maak in die lewe bepaal ons toekoms. So, ons het ’n keuse, om in jou gemors te wil sit en of jy bo dit wil uitstyg. Ek glo dat ons elkeen die sleutel tot ons eie sukses in ons eie hande het.”

  • A young man from Wellington who was once caught up in drugs sent his life in a new direction when he decided to put his drug habit behind him.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article