Die familie van Dominique Pietersen (18), ’n jongman van Wellington wie verlede jaar aan die Weltevrede Sekondêre Skool gematrikuleer het, sê hulle sukkel om sy tragiese dood te verwerk nadat hy in die bors gesteek is toe hy sy broer tydens ’n aanranding probeer help het.
Die voorval het Sondag (4 Februarie) in die vroeë oggendure plaasgevind, waarna Pietersen met ’n steekwond in sy bors in die Paarl-hospitaal opgeneem is, het kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, aan Paarl Post gesê.
Volgens Barkhuizen is hy Dinsdag (6 Februarie) uit die hospitaal ontslaan, maar is Saterdag (10 Februarie) weens die steekwond in die hospitaal dood.
Pietersen se ma, Mariza, het vandeesweek aan Paarl Post gesê die hospitaal het nie haar kind die eerste keer ordentlike behandeling gegee nie.
“My kind was vir amper drie dae in die hospitaal se ongevalle-eenheid. Hy moes vir drie dae op ’n bankie in ’n gepakte ongevalle-eenheid sit – dis waar hulle hom behandel het.”
Sy sê tydens hul besoek aan die hospitaal het Pietersen gekla dat hy verskriklike pyn het.
“Ons verstaan dat hy weens die steekwond na binne gebloei het en hulle moes toe ’n pypie gebruik om van die bloeding ontslae te raak. Nadat hy die Dinsdagoggend ontslaan is, kon my kind weens die pyn nie eens ordentlik loop nie.
“Ek het hom daardie Vrydag weer kliniek toe gevat, en dis toe een van die susters gesê het dat die wond aanvanklik nie reg behandel is nie. My kind het die Saterdag (10 Februarie) ’n terugslag gehad en is binne etlike oomblikke nadat hy weer in die hospitaal opgeneem is, dood,” het sy emosioneel gesê.
Die Weltevrede Sekondêre Skool in Wellington het in ’n Facebook-inskrywing hulde aan Pietersen gebring, en gesê “niks of niemand kon ons voorberei op die nuus van jou ontydige heengaan nie”.
“Jy was een van die wonderlikste leerders by ons skool. Saggeaard, goedgemanierd en altyd op jou plek. Jy was elke dag by die skool en het altyd jou samewerking in klasse gegee. Jou vriende en klasmaats was gek oor jou en jy was ’n baie goeie vriend vir almal,” lui die inskrywing.
Tamchlin Jacobs, Pietersen se niggie en een van sy beste vriende, het aan Paarl Post gesê sy dood laat ’n groot leemte in haar lewe.
“Ons het ’n baie lang pad saam gestap. Ons het saam by Hillcrest Primêr begin en daarna ons skoolloopbaan by Weltevrede voltooi. Ons het selfs beplan om by dieselfde universiteit te gaan studeer.
“My herinneringe saam met hom speel nou daagliks in my kop af. Ek sal sy mooiste glimlag en goeie geaardheid nooit vergeet nie. Die hemel het gewis nog ’n engel gekry.”
’n Gedenkdiens vir Pietersen word vir komende Sondag by hul woning in Antlersstraat in Wellington gehou. Hy word Saterdag (24 Februarie) ter ruste gelê.


