’n Tienjarige gimnas van Wynland Gimnastiek-akademie, Zoë Julies, wat reeds sedert vyfjarige leeftyd haar passie vir gimnastiek uitleef, is onlangs in Durban as die nasionale kampioenskap se algehele wenner bekroon.
Zoë, ’n gr. 5-leerder van Laerskool La Rochelle, is ’n baie deeglike mens in alles wat sy aanpak – veral wat gimnastiek betref, waar sy beslis haar stempel afgedruk het.
Sy is vanjaar gedurende die Wes-Kaapse proewe ook aangewys as die algehele wenner en het vyf goue medaljes in die o.11-kategorie gewen.
“Ek is mal oor gimnastiek en droom daarvan om groot hoogtes in my sport te bereik,” sê Julies.
Hierdie vasberade gimnas is baie gedissiplineerd en woon elke oefening by.
Zoë het reeds op ses gespog met Boland-kleure wat sy verwerf het.
“Haar afrigters, Martinette Marais en Danielle van der Merwe, verrig wondere en hulle albei bied goeie motivering vir my kleinkind as dit kom by gimnastiek,” vertel Zoë se ouma, Lillian Julies.
Tydens haar deelname in Desember 2015 aan die Memorial-gimnastiekkompetisie in Serbië, het sy ook die tweede algehele prys in haar afdeling gewen.
* A ten-year-old gymnast is a national champion in her division.